
Sy het gesê Statistieke Suid-Afrika se 2019-verslag oor munisipaliteite toon dat munisipaliteite in die Wes-Kaap die hoogste vlakke van basiese dienste in Suid-Afrika lewer. Noodsaaklike munisipale dienste sluit in vervoer, munisipale beplanning, water, sanitasie en rioolwerke, markte, abattoirs en paaie.
“Dinamiese plaaslike ekonomieë skep aanvraag vir basiese munisipale dienste en lewer hulpbronne om daarvoor te kan betaal. Die lewering van basiese dienste kan ’n baie belangrike rol speel in die vermindering van armoede en werkloosheid. Dit kan ook sosiale kapitaal versterk.”
Paaie, damme en die Kaapstad-hawe
Spesifieke probleme in en rondom plattelandse dorpe wat die landboubedryf raak, is op die beraad bespreek.
Pakhuise wat probleme ondervind sodra elektrisiteitsvoorsiening onderbreek word, swak paaie in en om dorpe wat dit moeilik maak vir boere om hul produkte te vervoer, veiligheid en die verskaffing van water is van die probleme wat deur verskeie sprekers uitgelig is.
Mnr. Jannie Strydom, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap, het gesê die landbousektor steun op funksionele munisipaliteite. Agri Wes-Kaap verteenwoordig ongeveer 3 500 kommersiële boere in die Wes-Kaap en 92 landbouverenigings en volgens hom is die sektor en plaaslike regering interafhanklik van mekaar.
“Die verhouding met munisipaliteite is baie belangrik. Daar is soms meer as een boerevereniging in ’n munisipaliteit. Daarom is dit nodig om te weet waar ons as die georganiseerde landbou ’n rol kan speel en vennootskappe kan vorm, veral op provinsiale vlak.”
Wat infrastruktuur betref, het Strydom gesê die hawe in Kaapstad is belangrik vir die landboubedryf, veral met die vooruitsig van meer vrugte, soos sitrus en tafeldruiwe, wat binne die volgende twee tot drie jaar uitgevoer sal moet word namate nuwe boorde in produksie kom.
Brandvleidam
Me. Zanele Bila-Mopariwa, hoof van die departement van water en sanitasie se Wes-Kaapse streeks, het gesê planne om die Brandvleidam se wal te verhoog, gaan voort. Bouwerk kan einde Oktober begin. Die werk aan die Clanwilliamdam sal volgens haar teen einde November hervat word.
Wat paaie betref, het mnr. Lenn Fourie, adjunkdirekteur-generaal van die departement van vervoer en openbare werke, gesê die provinsie se begroting vir paaie vir 2022-’23 is R3,95 miljard. Die provinsiale padnetwerk was teen Desember 2019 sowat 32 217 km. Dit sluit hoof-, distrikspaaie en kleiner paaie in.
Volgens die departement se vooruitskattings sal die toestand van die padnetwerk oor die volgende dekade verswak.
“Op die oomblik sukkel ons om kop bo water te hou. As ons nie nou ingryp nie, sal die waarde van ons bates val met ongeveer R11 miljard oor die volgende vyf jaar namate die agterstand groter word.”
Landelike veiligheid
Dr. Ivan Meyer, Wes-Kaapse minister van landbou, het benadruk plaasaanvalle is ’n aanval op die land se ekonomie.
“Landelike veiligheid is belangrik, dit is deel van my werk en dit is nodig vir voedselsekerheid in die land. Sonder boere en werkers sal die ekonomie in duie stort en tot ernstige voedseltekorte lei.”
Mnr. J.P. Smith, burgermeesterskomiteelid van die Stad Kaapstad, het gesê in die Wes-Kaap was daar 17 plaasaanvalle wat 3 moorde insluit, binne die eerste vyf maande van 2019.
Hy het gesê die Suid-Afrikaanse Polisiediens se inligting dui daarop dat die provinsie vier plaasmoorde vir 2021 aangeteken het.
Die nasionale statistieke vir plaasaanvalle volgens hom is as volg:
- 113 plaasmoorde van 2021 tot 2022. Diefstal is slegs in 67 van dié sake as rede vir die aanvalle aangevoer.
- 184 plaasaanvalle en 20 -moorde gedurende die eerste ses maande van 2019.
- 113 plaaswerkers is aangeval.
Meer landbouskole
Meyer het gesê hy sal graag meer landbouskole in die provinsie wil sien. “Sonder opleiding is daar nie voedselsekerheid nie, daarom wil ek graag sien dat meer landbouskool in die provinsie opgerig word en bestaande skole kan meer landbouvakke aanbied.”
Meyer het ook benadruk die hutsmerk #fortheloveofagriculture, kan ’n belangrike rol in die provinsie en land se landboubedryf speel.