
Die vrugte- en wynbedryf in die Wes-Kaapse beleef een van sy vroegste oeste in menseheugenis. Goeie klimaatstoestande – veral in die lente – het hiertoe bygedra.
Veral steenvrugteboere het rede om te glimlag, want dit bring unieke markgeleenthede omdat die vrugte oorsese supermarkte tref voor Chileense vrugte ook daar land.
“Steenvrugte is sowat 10 tot 14 dae vroeër en appels en pere omtrent 5 dae. Ons is ook baie gelukkig met die gehalte en selfs al is dit so ’n vroeë oes, is die vruggrootte ook goed,” sê mnr. Peter Dall, vrugteboer van Villiersdorp.
“Dit is baie gunstig vir steenvrugte wat nie ’n rakleeftyd het nie en dadelik gepak en verskeep word. Die vrugte kan in die mark kom vóór Chili, wat glo gewone tyd oes. Daar is egter min voordele vir appels en pere, want die mark het nog nie eers verlede jaar se oes uitverkoop nie.”
Volgens mnr. Pierre Wahl, wynmaker by Rijk’s op Tulbagh, is dit sy “vroegste oes nog”.
“Voorheen was 15 Januarie die vroegste datum waarop ons begin pars het, maar vanjaar het ons al op 8 Januarie begin. Parstyd het dus tien tot veertien dae vroeër afgeskop as in die verlede.” Volgens hom is die druiwe vroeër gereed danksy gunstige temperature met rypwording.
“As dit te warm is, slaan die wingerd toe en produksie staan stil. Vanjaar het ons meer optimale temperature (van 25 °C tot 30 °C) gehad en dan is transpirasie, respirasie en fotosintese in die wingerd meer doeltreffend.”
Hy sê die oes lyk ook kleiner – op die oog af tot 30% minder as verlede jaar – so die wingerd kon dit makliker ryp maak. Dis grootliks omdat die korrels kleiner en die trosse ligter is. Hy is nie op die oomblik bekommerd oor swamsiektes nie.
Tot twee keer meer tafeldruiwe is rondom Kersfees uitgevoer as verlede jaar. “Dis nie omdat dit so ’n groot oes is nie, maar omdat dit so vroeg is,” vertel mnr. Michael Laubscher, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Tafeldruifindustrie (Sati) en boer van die Hexvallei.
Die tafeldruifoes was oral vroeg – van langs die Oranjerivier, tot in Trawal, Paarl en die Hexriviervallei.
“Dis die vroegste wat ons nog begin druiwe pak het en alles, die vroeë en laat kultivars, is vroeg vanjaar. Die geskiedenis het egter al bewys ’n vroeë oes is nie noodwendig ’n rekord-oes nie.”
Hy sê tafeldruiwe se gehalte is goed vanjaar, veral omdat daar nie reënskade was nie. “Al wat kommerwekkend is, is die markomstandighede. Die mark is onder die indruk dit gaan ’n groot oes wees, daarom is pryse onder druk.”
* Rusland se sanksies op Europese vrugte knyp ook plaaslike boere. Suid-Afrika het sowat een miljoen kartonne regstreeks na Rusland uitgevoer, maar ’n verdere vyf miljoen kartonne is via Nederlandse en Duitse invoerders in Rusland verkoop. Dié druiwe moet nou huis kry in Europa, wat verder knibbel aan pryse.