
Die wenners van die jaarlikse entrepreneurskompetisie vir vroue in die landbou is vir die 15de keer tydens ’n geleentheid wat deur die Wes-Kaapse departement van landbou gereël is, aangewys.
Die kompetisie is ’n gesamentlike inisiatief van die nasionale Departement van Landbou, Bosbou en Visserye en die provinsiale departemente van landbou. Die bydraes van vroue ten opsigte van voedselsekerheid, werkskepping, ekonomiese groei en armoedeverligting word beloon.
Mnr. Alan Winde, minister van van landbou, ekonomiese ontwikkeling en toerisme in die Wes-Kaap, het gesê dis belangrik om die Wes-Kaap se entrepreneurs te vereer. Winde het vanjaar se wenners en finaliste aangemoedig om werktuie te word om vroue en jong mense na die landbou te bring om dié sektor se groei te stimuleer. “Een van my groot doelwitte is om te sien hoe vroulike entrepreneurs in die landbou begunstigdes word van grondhervormingsprogramme,” sê Winde.
In haar toespraak het me. Carole Kirkwood-Pretorius, verlede jaar se wenner in die entrepreneurskategorie vir kleinskaalse boere, die departement geloof en gesê die kompetisie het haar van 'n kleinskaalse boer na 'n kommersiële boer help uitstyg. Haar raad aan vroue in die landbou was: “Volg jou droom, moenie wag vir iets om te gebeur nie.”
Vanjaar word die nasionale kompetisie op 22 Augustus op Mafikeng gehou waar provinsiale kategoriewenners om die nasionale toekennings sal wedywer. 'n Nasionale wenner sal ook aangewys word.
Die volledige lys van wenners:
Beste werker: Claudie Daniels. Sy werk by ’n bergingsfasiliteit waar plaaslike en internasionale wyn vir wynplase gebotteleer, van etikette voorsien en versprei word.
Selfversorgende boer: Nomonde Kweza. Sy bedryf ’n groentetuin en boer ook met erdwurms wat sy in haar tuin gebruik. Sy help ander mense wat sulke tuine wil begin en voorsien hulle van erdwurms.
Kleinskaalse boer: Eleanore Swart. Sy kweek tamaties in tonnels vir verskeie plaaslike markte.
Verwerking: Ilse Ruthford. Sy is in ’n bestuursposisie en ’n aandeelhouer van die trust. Sy het ook ’n groentetuin vir die werkers ge?nisieer. Hulle het ook pas hul eie wyn begin botteleer van druiwe wat op hul eie grond verbou word.
Kommersieel: Jeanne Groenewald. Sy boer met hoenders en is die eienaar van Elgin Free Range Chickens. Sy is die grootste verskaffer van gesertifiseerde vryloop-hoenders vir talle markte, Woolworths ingesluit.
Ministeriële toekenning: Samantha Smiles. Sy beskik oor 'n uiteenlopende sake-onderneming met die fokus op skape en wol. Sy hou ook vee en varke aan.
Inligting verskaf deur die Wes-Kaapse departement van landbou.
Byskrif: Van links is mes. Ilse Ruthford (verwerking), Jeanne Groenewald (kommersieel), Minister Alan Winde, mes. Samantha Smiles (ministeriële toekenning), Eleanore Swart (kleinskaalse boer), Claudie Daniels (beste werker) en Nomonde Kweza (selfversorgende boer). Klik net op foto om te vergroot.