
Die Wes-Kaapse departement van landbou het verlede week sy memorandum van verstandhouding met kommoditeitsvennote met nog drie jaar verleng. Dit skep ’n platform vir kommoditeitsorganisasies om voort te gaan met steun aan nuwe boere deur die bied van raad, mentorskap, opleiding, insette en marktoegang.
Ooreenkomste is onderteken met die Nasionale Wolkwekersvereniging, die Sagtevrugteprodusente-trust, Vinpro, die Suid-Afrikaanse tafeldruifbedryf, die SA Pluimveevereniging, Aartappels SA, Rosyne SA en Graan SA.
Meyer sê die departement het verskeie strategiese vennootskappe ontwikkel wat die departement se werk aanvul en die impak van sy inisiatiewe vir dienslewering verbeter. Een so ’n inisiatief is die kommoditeitsbenadering wat gedurende die afgelope dekade volgens hom noemenswaardig bygedra het tot die sukses van die departement se kommersialiseringsprogram.
Dr. Mogale Sebopetsa, hoof van die departement, sê ooreenkomste sal ook met die Suid-Afrikaanse Sitruskwekersvereniging, die Suid-Afrikaanse Varkvleisprodusente-organisasie, die Rooivleisprodusente-organisasie en Berries SA onderteken word.
Me. Mariette Kotzé, groepbestuurder van Hortgro, sê die vennootskap wat hulle sedert 2011 met die departement het, het al ’n groot impak gehad. “Dit gaan oor ’n verskil maak, maar ook die skep van ’n bemagtigende omgewing vir ons produsente.”
Mnr. Rico Basson, uitvoerende hoof van Vinpro, sê die wynbedryf het enorme potensiaal en dat die departement van landbou ’n betroubare vennoot sonder gelyke elders in Suid-Afrika is wat sal help om dié potensiaal te ontsluit.