Die Wes-Kaap verwag groot reën tydens sy reënseisoen en berei hom voor op moontlike vloede, aldus Agri Wes-Kaap.
Die Nasionale Rampbestuursentrum het Woensdag (26 Januarie 2011) aan die parlementêre portefeulje-komitee vir samewerkende regering gesê die swaar reënneerslae gaan later vanjaar suid beweeg.
“Dit gaan voortgaan soos nou tot Mei, en dan gaan dit oorskuif na die Wes-Kaap in Junie-Julie,” aldus mnr. Maphaka Tau, senior bestuurder van die sentrum. Luidens ‘n berig op News24.com sê Tau hulle het vandeesweek die rampbestuurstrukture in die Kaap gewaarsku om hulself vir so ‘n situasie te begin voorberei.
Waterwese nie opgewasse
Volgens Tau dui die feit dat die sluise van byvoorbeeld die Gariep-, Vanderkloof- en Vaaldam nie betyds oopgemaak is nie, ‘n gebrek aan kundigheid binne die Departement van Waterwese en Omgewingsake aan.
Dié damme het vroeër vlakke van tot 111% bereik voor sluise geopen is, en intussen het die Vaaldam weer dié week sy 100% vlak bereik. “Iemand met ‘n rampbestuursagtergrond sou die damvlakke gemonitor het. Ons sou dan nie ‘n situasie gehad het waar damme na vlakke van meer as 100% styg en dit net gelos word nie,” sê Tau.
Reeds beplanning
Intussen sê Agri Wes-Kaap: “Ons verwag ‘n hewige reënseisoen hierdie jaar en na aanleiding van die ongewone weersomstandighede in die res van die land, is ons reeds besig om gesprekke met die betrokke rolspelers (Departement van Landbou, Rampbestuur, ens.) te hê sodat planne in plek gesit kan word om moontlike krisisse te probeer bestuurs.”
Die organisasie sê ‘n mens kan egter wel nie voorspel hoe ‘n situasie werklik gaan wees nie, derhalwe moet hulle verskeie scenariobeplannings doen ter voorbereiding van die verwagte hewige reënval.
Bron: News24.com
27 Januarie 2011