
Dr. Ivan Meyer, Wes-Kaapse minister van landbou, sê luidens ’n verklaring die groei en werkskepping wat dié bedrywe vanaf 2009 tot 2019 getoon het, bewys weer dat die verwerking van landbouprodukte ’n strategiese prioriteit vir die Wes-Kaap is.
In hierdie tydperk het dié bedrywe hul bruto toegevoegde waarde van voedselverwerking meer as verdubbel van R9,2 miljard tot R23,7 miljard, ’n gemiddelde jaarlikse toename van 4,3%, wat veel hoër as die provinsie se oorhoofse inflasie is. Die bruto toegevoegde waarde van drank- en tabakproduksie het van R5,2 miljard tot R9,8 miljard toegeneem.
Gevolglik het werkskepping in die bedrywe ook toegeneem. Meyer sê die bedrywe het in 2009 sowat 64 000 mense in diens geneem. Dié getal het teen die einde van 2019 tot meer as 122 000 toegeneem. “Dit is ’n toename van 58 000 werksgeleenthede en verteenwoordig 13% van die werksgeleenthede wat gedurende hierdie tydperk in die provinsie geskep is.”
In 2020 is 17 000 werksgeleenthede geskep.
Meyer sê dié syfers is veral indrukwekkend aangesien die pandemie ’n verwoestende impak op Suid-Afrika se indiensneming gehad het.
Volgens Meyer sal die departement hard werk om nuwe verhoudings te bou om die verwerking van landbouprodukte uit te bou. ’n Nuwe inisiatief wat dit wil bevorder, Agri-Processing on Wheels, word later vanjaar van stapel gestuur. Hierdie inisiatief sal landelike gemeenskappe blootstel aan die geleenthede in die verwerking van landbouprodukte wat hopelik sal lei tot werkskepping en verbeterde voedselsekerheid.