
Gevalle van bek-en-klouseer is reeds vanjaar in die Vrystaat, Limpopo en Gauteng aangemeld en nuwe gevalle word steeds in Noordwes en KwaZulu-Natal aangemeld.
Die Wes-Kaap, tans nog vry van bek-en-klouseer, stel nou maatreëls in om dié status te behou.
Luidens ’n verklaring van die Wes-Kaapse departement van landbou volg die verspreiding van die siekte op die beweging van diere vanuit die beheergebied langs die Krugerwildtuin en nadat besmette diere op ’n veiling verkoop is.
“Daar word ’n beroep op alle vee-eienaars gedoen om slegs vee vanaf betroubare bronne aan te koop, verkieslik nie vanuit geaffekteerde provinsies nie. Verder word dit hoogs aanbeveel dat ’n sertifikaat van ’n private veearts die aangekoopte diere vergesel.
“Die veearts moet aandui dat die siekte nie in die gebied van oorsprong voorkom nie en dat die diere wat geskuif word, klinies gesond is.”
Diere moet dan vir ’n tydperk van ten minste vier weke in isolasie gehou word op die bestemmingsplaas vóórdat hulle met die res van die kudde meng. Om diere op ’n veiling te koop bly ’n groot risiko en word nie aanbeveel nie.
Hoogs aansteeklik
Bek-en-klouseer is ’n hoogs aansteeklike virussiekte van diere met gesplete hoewe, soos beeste, skape, bokke en varke. Die huidige uitbreking kom tans nog net by beeste en buffels (in die noorde van KwaZulu-Natal) voor.
Die siekte het ’n inkubasieperiode van tot twee weke vandat die dier aansteek, totdat dit kliniese tekens wys. In hierdie tydperk kom diere normaal en gesond voor, maar as hulle geskuif word, versprei die siekte saam met die diere.
Veilings skep hoërisikogeleenthede vir die verspreiding van die siekte aangesien diere van verskillende plekke van oorsprong op een plek bymekaar kom, meng en weer na verskillende eienaars gaan.
Die virus affekteer die binnekant van die dier se bek en die vel rondom die kloue. Dit veroorsaak pynvolle blase in die mond wat lei tot ’n verlies aan eetlus en oormatige speekselafskeiding. Die vel rondom die kloue raak seer, rooi en opgeswel wat mankheid tot gevolg het. Dit kan ook rou sere ontwikkel.
Bek-en-klouseer is ’n staatsbeheerde siekte omdat dit so vinnig versprei en weens die groot impak wat dit op die land se ekonomie het. Diere verloor gewig en wil nie vreet nie. Hierdie diere of diereprodukte kan ook nie uitgevoer word na lande wat vry van bek-en-klouseer is nie.
Indien die siekte op ‘n plaas gediagnoseer word, word die plaas én buurplase onmiddellik onder kwarantyn geplaas om te voorkom dat mense en diere die siekte verder versprei.
Toetse word gedoen om die verspreiding van die siekte te bepaal en alles moontlik moet gedoen word om die verspreiding van die siekte te voorkom. Die maklikste manier is soms om die positiewe kudde uit te slag.
Die Wes-Kaapse departement van landbou sê as almal saamwerk en verantwoordelik omgaan met die verskuiwing van diere, kan gekeer word dat die siekte die provinsie binnekom en boere en landelike ekonomieë erge finansiële verliese berokken.
Navrae en nog inligting: https://www.elsenburg.com/veterinary-services/animal-health-and-disease-control/.
Besoek https://bit.ly/3PpeK8R om meer te wete te kom oor bek-en-klouseer.