
Die Gautengse departement van landbou en landelike ontwikkeling wil ‘n landboukollege aan die Wes-Rand vestig.
Me. Nandi Mayathula-Khoza, LUR vir die portefeulje, het Maandag (25 Julie) op ’n media-ontbyt in Johannesburg gesê haar departement beoog om in die 2011/’12-boekjaar ‘n program vir die projek bekend te stel.
Volgens Mayathula-Khoza is dié kollege sedert 2009 in die pyplyn, maar weens begrotingsbeperkings kon hulle nog nie optree nie. Die departement se begroting vir opleiding en ondersteuning beloop in die komende boekjaar sowat R170 miljoen, en volgens die LUR “is baie miljoene nodig vir so ’n kollege.”
Sy het die bedryf gevra om die departement met finansiering by te staan en met hulle te gesels oor idees en moontlikhede vir so ’n kollege.
Die Bekker-landbouskool
Die LUR sê hulle het die Bekker-landbouskool as ’n geskikte plek vir die kollege geïdentifiseer. Agri SA het reeds laat blyk dat hy ook by so ’n projek betrokke wil raak. “Ons sal dus met al die belanghebbendes praat wat reeds met ons kontak gemaak het, sodat ’n program vir so ’n kollege opgestel kan word.”
Die Landbounavorsingsraad het homself glo reeds tot so ’n kollege, die geldelike bestuur en die bemarking daarvan verbind. Die departement sê die aanvangstadium van die kollege sal sowat R20 miljoen beloop en die totale begrotings staan tans op R82 miljoen.
Paaie
Wat paaie en infrastruktuur betref, sê die LUR hulle besef die belangrikheid van goeie paaie. Hulle fokus tans veral op die verbetering van paaie in die Vaaldriehoek waar mielies verbou word.
“Ons wil dié omgewing laat herleef, en goeie paaie is een van die maniere wat die sektor kan bystaan.”
Ten opsigte van probleme met die voorgestelde toltariewe in die provinsie, sê die LUR hulle het saam met die Gautengse regering met die Minister van Vervoer gepraat om hul kommer bekend te maak, en hulle hoop dat gunstiger voorstel op die ou end aanvaar sal word.
25 Julie 2011