
Die wysigingswetsontwerp op onteiening wat die Kabinet goedgekeur het om by die Parlement ingedien te word, kan teen die einde van die jaar gereed vir proklamasie wees.
Verskeie burgerlike organisasies het beswaar gemaak oor die voorgestelde wetgewing van 2013, veral omdat dit in die praktyk moontlik sal wees vir honderde staatsamptenare om beslag te lê op besittings en eiendomme deur bloot ’n kennisgewing op die eienaar te bestel, sonder dat die staat vooraf enige vergoeding betaal.
Van die beter voorstelle in die wetsontwerp as dié een van 2008, is dat howe, pleks van die staat, oor vergoeding kan besluit wanneer grond onteien word.
Die onteieningswetsontwerp maak voorsiening vir onder meer die onteiening van eiendom vir openbare doeleindes. Die wetsontwerp, saam met die Wet op die Herstel van Grondregte, gee gestalte aan die Regering se planne om grond vir grondhervorming oor te dra.
Tans het die president, sowat nege ministers, álle premiers en burgemeesters onteieningsregte. Daar is nie ’n duidelike administratiewe proses wat hulle moet volg nie. Onteieningsowerhede was tot nou onwillig om onteiening toe te pas weens die onsekerheid wat bestaan oor wat regverdig en billik is.
Mnr. Jeremy Cronin, Adjunkminister van Openbare Werke, het gesê diegene wat aan die Nedlac-proses deelgeneem het, is die versekering gegee dat die bedoeling met die wetsontwerp is om te verseker dat duidelike riglyne en grondwetlikheid vir onteiening bestaan.
* Mnr. Ernst Roets, adjunk-uitvoerende hoof van AfriForum, sê die bedreiging van eiendomsreg is die enkel grootste bedreiging vir die demokratiese bestel in Suid-Afrika.
“Eiendomsreg is die hoeksteen van demokrasie. As eiendomsreg nie gerespekteer word nie kan daar nie 'n vryemark wees nie. As die vryemark bedreig word, is die welvaart van alle Suid-Afrikaners in gedrang.”
’n Veldtog vir die beskerming van eiendomsreg is vroeër vanjaar deur AfriSake van stapel gestuur.