
’n Wetenskaplike aksieplan vir skaliegasontginning is vandeesweek deur die akademie van wetenskappe in Suid-Afrika (ASSAf) bekend gestel.
“Hoewel Suid-Afrika vermoedelik oor ’n groot hoeveelheid skaliegas beskik, is die land nie op ’n tegniese vlak voorbereid om dit te kan ontgin nie. Die oogmerk met die plan is om te verseker dat Suid-Afrika op ’n tegniese vlak voorbereid is wanneer hy sy skaliegasbedryf op die been bring,” het prof. Cyril O’Connor, hoof van die ASSAf-paneel en verbonde aan die Universiteit van Kaapstad se departement chemiese ingenieurswese, met die bekendstelling van die plan gesê.
Me. Ntokozo Ngcwabe, ’n adjunkdirekteur-generaal van die departement van minerale hulpbronne en energie, het gesê haar departement is verheug oor die bekendstelling van die plan omdat energie-geopolitiek tans ’n groot rol in die wêreldekonomie speel. Dit laat skiet energie- en voedselpryse die hoogte in en benadeel ekonomiese prestasie.Sy het gesê skaliegas sal bydra tot energiesekerheid vir Suid-Afrika, en gevolglik ’n sterker ekonomie.
‘Beduidende hulpbron’
Kenners verskil nog oor hoeveel skaliegas in die Karookom teenwoordig is, met skattings vir tegniese onttrekkingsvolumes wat wissel van 13 triljoen kubieke voet (tcf3) tot ongeveer 153 tcf3.“Selfs al kan slegs 5 tcf3 ekonomies ontgin word, is dit steeds ’n moontlik beduidende hulpbron vir Suid-Afrikaanse energie-ekonomie,” het O’Connor gesê.
Volgens O´Connor kan ’n opbrengs van 5 tcf3 oor 20 of 30 jaar 1 000 MW tot 2 000 MW tot die nasionale kragnetwerk voeg deur ’n gekombineerde-siklus gasaangedrewe kragsentrale.O’Connor het gesê die aksieplan sal verseker dat beleid rondom skaliegasontginning versterk word om seker te maak die bedryf voldoen aan alle omgewingswetgewing.
Voorbehoude
O’Connor het gesê drie sleutelvrae moet gevra word voordat ’n skaliegasbedryf in Suid-Afrika tot stand gebring kan word:
- Wat is die samestelling en skaal van die skaliegas in die Karookom, en hoe kan dit op ’n ekonomies haalbare en veilige manier onttrek en verwerk word?
- Watter maatskaplike, omgewings- en ekonomiese basislynneigings in die streek moet gemeet en gemonitor word voor, gedurende en ná hidrobreking?
- Watter wetenskaplike, regerings-, en ingenieursbestuursaksies moet ingestel moet word om toekomstige risiko’s te versag en om die voordele te bevorder?
Die plan maak voorsiening daarvoor dat die toepassing daarvan deur ’n skaliegasmoniteringskomitee oorsien word, bestaande uit verskeie ministers, provinsiale verteenwoordigers, asook wetenskaplikes van maatskappye in staatsbesit.
Volgens O’Connor beskik Suid-Afrika reeds oor die nodige vaardighede en kundigheid binne die betrokke staatsdepartemente en hoëronderwysinstellings om die nodige ondersoeke vir die aksieplan te kan uitvoer.
Hy het ook aangeraai dat die private sektor van meet af aan betrokke moet wees by die proses.
Die aksieplan kan hier afgelaai word.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.