
Die wetsontwerp maak volgens die organisasie voorsiening vir die inhegtenisneming van betreders, al het hulle reeds strukture opgerig of woon reeds in sulke strukture.
“Hierdie is ’n baie belangrike bepaling om die groeiende bedreiging van onwettige besetting van plaasgrond en die gevolglike risiko rakende voedselsekerheid hok te slaan,” sê Agri SA in ’n verklaring.
Die organisasie het kommentaar gelewer op die wetsontwerp en sê dit bied ’n doeltreffende meganisme om uitvoering te gee aan die grondwetlike plig van die polisie om misdaad te voorkom, bestry en ondersoek. “Daar is egter steeds ernstige bedenkinge rakende die wetsontwerp wat aandag moet kry om dit uitvoerbaar te maak en die regte en veiligheid van grondeienaars te verseker.”
Agri SA is bekommerd oor die bepaling dat ’n grondeienaar ’n betreder moet nader en versoek om die perseel te verlaat. “Hierdie bepaling kan direk op konflik uitloop en, gegewe die hoë misdaadvlakke in Suid-Afrika, is dit ondenkbaar om te verwag dat ’n wettige grondeienaar homself in ’n potensieel lewensgevaarlike situasie sal plaas.”
Skuiwergat
Die organisasie het ook ’n belangrike skuiwergat in die wetsontwerp uitgewys. “Indien ’n indringer voldoen aan die grondeienaar se versoek om die eiendom te verlaat, mag hy nie aangekla word nie.” Agri SA is van mening dat die oomblik wanneer die persoon private eiendom betree, hy die wet oortree het en gevolglik in hegtenis geneem en vervolg moet word.
“Suid-Afrikaanse boere ondervind vele kwessies wat grondbesit betref, insluitend die onteieningswetsontwerp wat binnekort in die nasionale vergadering gedebatteer sal word. Ons lede ervaar toenemend betreders op hul eiendom en ontvang weinig hulp van die polisie,” sê mnr. Uys van der Westhuijzen, voorsitter van Agri SA se afdeling vir landelike veiligheid.
“Die gevolg is dat betreding dikwels eskaleer tot onwettige besetting van grond en geboue, wat dan lei tot hoë koste en ’n tydrowende uitsettingsproses,” sê hy. “As hierdie oorblywende kwessies uitgestryk kan word, sal die wetsontwerp help om betreding op boere se eiendom te beperk, maar dit sal doeltreffende polisiëring vereis om dit af te dwing.”