’n Oplossing vir renosterstroping wat sedert verlede week op twee werksessies in die land bespreek is, is die moontlikheid van wettige handel in renosterhoring, sê die Private Renoster-eienaarsvereniging (PROA).
Mnr. Pelham Jones, voorsitter van die vereniging, sê die temas van wettige handel en die verwydering van renosters se horings is in detail op werksessies van die Trust vir Bedreigde Wildlewe en die Internasionale Unie vir Natuurbewaring (IUCN) se spesialis-renostergroep bespreek.
“Om die verkoop van drank op sekere dae te verbied, het nie gewerk nie; om iets te verbied gaan nie werk nie, so daar moet na maniere gekyk word om ’n wettige mark vir renosterhorings op die been te bring”, sê Jones. “Om dit te kan doen, moet ons egter ’n kredietwaardige databasis van renostereienaars en renosterhoring-voorrade op die been bring en byhou.”
Amnestie
Jones sê na aanleiding van die moontlikheid van so ’n mark gaan hulle owerhede versoek om amnestie toe te staan aan renostereienaars wat nog nie hulleself en hul diere op die sentrale databasis geregistreer het nie.
“Om wettige handel geslaag aan te pak gaan dié databasis baie belangrik wees, so die ouens moet hulleself kan registreer sonder vrees vir vervolging.”
Op die punt van ineenstorting
Hy sê die renosterbedryf is weens stropery op die punt van ineenstorting. Beleggers se vertroue in die bedryf taan en pryse vir dié unieke diere het aansienlik gedaal.
“Na aanleiding van die private verkope wat die jaar al plaasgevind het, het die gemiddelde prys vir ’n renoster van R350 000 tot R120 000 gedaal. En nie baie mense oorweeg dit om tans sulke geld aan ’n dier te bestee wat môre, oormôre deur ’n stroper doodgeskiet kan word nie,” sê Jones.
Nege jaar vir ’n renoster
Intussen is twee stropers wat in Oktober verlede jaar in die Kruger-wildtuin aangekeer is, tronkstraf van nege jaar opgelê vir die onwettige jag van renosters en die besit van onwettige vuurwapens en ammunisie. Luidens ’n verklaring van Sanparke is ’n derde stroper vyf jaar tronkstraf opgelê vir die onwettige jag van renosters.
Jones sê hulle is “ongelooflik bekommerd” oor die situasie in die land, met 71 renosters wat reeds dié jaar doodgemaak is.
Hy sê met die Weermag wat binnekort die oostelike grens van die Kruger-wildtuin gaan begin patrolleer, vrees private wildreservaat-eienaars en provinsiale parke dat stropers hulle daarheen sal wend om renosterhorings in die hande te kry. “Ons is tans baie maklike teikens!”
16 Maart 2011