
Ná 'n maand van onsekerheid oor wat Wildbedryf SA se amptelike posisie moet wees ten opsigte van die Minister van Landbou se aankondiging dat 12 wildspesies nou onder die Veeverbeteringswet as landras geregistreer kan word, het die organisasie se voorsitter, mnr. Wiaan van der Linde, 'n kort nuusverklaring uitgereik waarin WRSA die minister se aankondiging in die Staatskoerant van 11 Julie verwelkom.
Die weg is nou oop sodat spesiegenootskappe, soortgelyk aan die telersgenootskappe van bees- en skaaprasse, vir Swart Wildbebees, Blouduiker, Blouwildebees, Bontebok, Gemsbok, Rooibok, Oorbietjie, Rooi Hartebees, Bastergemsbok, Swartwitpens, Springbok en Tsessebe op die been gebring word.
Dit kom nadat 'n wildboer, mnr. Peter Knite, glo in terme van die Wet op Diereverbetering (Wet 62 van 1998) daarvoor aansoek gedoen het. Knite het ook by die Registrateur van die Wet aansoek gedoen om 'n registrasieliggaam soortgelyk aan SA Stamboek te registreer. Dit staan nou bekend as die Wildtelersvereniging (WPA).
Registrasie van wild
Van der Linde sê die registrasie van wild onder die Veeverbeteringswet sal die regulering van wildboerdery-aktiwiteite, wildteel en die wildsvleisskema onder die vaandel van die Departement van Omgewinsake en Toerisme uitskuif en onder beheer van die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye plaas.
"Ons glo dit is 'n stap nader aan selfregulering, iets waartoe WRSA al lankal streef," sê Van der Linde. "Ons glo dat WRSA hierdie stap op 'n positiewe manier kan akkommodeer en tot voordeel van al sy lede se belange kan laat werk.”
Hy sê WRSA is reeds besig om met beide departemente te praat om duidelikheid te kry oor al die implikasies van die skuif. "Ons sal ook met die Wildprodusentevereniging (WPA) saamwerk om na die belange van ons lede en ons bedryf om te sien.”