
As voornemende wildboere die saak nie wetenskaplik benader en vooraf ’n deeglike analise maak van die beskikbare habitat en die tipe wildspesies wat daarop sal gedy nie, kan dit hulle baie duur te staan kom, waarsku prof. Nico Smit van die departement vee, wild en weidingkunde aan die Universiteit van die Vrystaat.
Smit, wat een van die sprekers op ’n wildinligtingsdag was wat deur Meadow Feeds op Graaff-Reinet aangebied is, sê daar is baie kundigheid beskikbaar om voornemende boere in dié opsig te help. “Om te verseker dat wildboerdery volhoubaar is, moet jy met ’n fyn oog na die hulpbron kyk.
“Net soos daar suksesvolle veeboere is wat aanvoer dat hulle eintlik as ’t ware ‘grasboere’ is, is daar ook wildboere wat vandag die regte ding doen. Maar ek het ook al op wildsplase gekom waar die weiding baie meer as op ’n veeplaas vernietig was omdat die eienaars nie vooraf die hulp van kundiges ingeroep het nie.”
Oor die uitsonderlike hoë pryse wat vir wild met eksotiese kleure behaal, het Smit aan Landbouweek gesê hoewel daar altyd wild met resessiewe gene is wat in die natuur voorgekom het, hy ongemaklik is oor die doelbewuste teelprogramme om oor verskillende generasies die kleure in te teel. “Dan word dit ’n tegniek waarmee bv. vee- en honderasse ontwikkel is en is die eindresultaat nie meer dit wat natuurlik in die natuur voorgekom het nie. As dit hoofsaaklik deur geld gedryf word, vlieg die etiek maklik by die agterdeur uit.
Hy het ook gesê dat die bestendigheid van die wildbedryf geleë is in die rol wat plaaslike jagters speel. “Op politieke vlak kan iets gebeur wat buitelandse jagters, soos in Zimbabwe, oornag hulle rug op die land kan keer en dan sit jy in die moeilikheid.”