
Die provinsie het die hoogtepunt van sy tweede golf Corona-19-besmettings verbygesteek.
Winde sê hy het aan dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, geskryf om te vra dat sekere beperkinge dringend verslap moet word.
Winde vra dat die huidige aandklokreël verander word na 23:00 tot 04:00 sodat restaurante aandetes kan bedien.
Hy vra dat drankverkope net van Maandag tot Donderdag toegelaat word. Wynplase moet wel toegelaat word om oor naweke drank te verkoop aangesien dit die tyd is wanneer die meeste besoekers hierdie plase besoek. Hierdie verkope is belangrik vir die oorlewing van die provinsie se wyntoerisme.
Restaurante moet toegelaat word om drank met etes te bedien. As hulle nie alkohol kan verkoop met aandetes nie, sal hulle nie winsgewend bly nie en gedwing word om toe te maak met baie werk wat verlore sal gaan.
Hy vra verder dat strande en ander openbare gebiede weer oopgemaak moet word.
Die provinsie wil so gou moontlik die Wes-Kaapse drankregulasies aanpas om alkoholverwante gevaar op ’n volhoubare manier aan te pak.