
Die landbou in die Wes-Kaap toon groot veerkragtigheid as dit moeilik gaan, het mnr. Alan Winde, premier van die Wes-Kaap, gesê. “Elke keer dat die landbou deur probleme uitgedaag word, tree die bedryf na vore en maak ’n verskil.”
Winde, wat in November deur Agri-Expo vereer is vir sy bydrae tot die landbou, het gesê die ondervinding wat hy opgedoen het toe hy probleme soos droogte en voëlgriep as Wes-Kaapse minister van landbou te bowe moes kom, help hom nou om covid-19 in die provinsie te bestuur.
“Die landbou was ’n ongelooflike tyd en ervaring vir my. Die landboubedryf verstaan kwessies en my reis in die landbou help my met my huidige reis in die provinsie.”
Winde, wat op die 190-jarige bestaansvieringe van die landbougenootskap Kaap die Goeie Hoop buite Stellenbosch gepraat het, het gesê die bedryf kan “supertrots” wees op die toename van 24% in uitvoersyfers wat in 2020 behaal is.
“Waar ek in die provinsie ry, word skadunette opgerig en nuwe aanplantings gedoen. Dit getuig van veerkragtigheid en innovering.”
Hy glo die bedryf gaan volgende jaar ook presteer omdat produktiwiteit aanhou verbeter.
Winde het ook Wes-Kaapse mense geloof vir die manier waarop hulle deur die koronaviruspandemie saamgestaan het om mense te voed en kon help met ’n wêreldklas-voedselstelsel.
Hy het gesê die pandemie moet daartoe lei dat die provinsie en Suid-Afrika na ’n nuwe normaal oorgaan.
Oudste landbougenootskap
Agri-Expo, die oudste landbougenootskap in Afrika, vier vanjaar sy 190ste bestaansjaar. Die organisasie het op die bestaansjaarviering op die landgoed Cavalli by Stellenbosch sy planne vir 2022 aangekondig.
Die planne sluit in ’n internasionale landbou-in-die-klaskamer-projek, ’n kykNET-televisiereeks oor kaas en ’n reeks SA Kaasfees Opwip-pieknieks in die Wes-Kaap.
Mnr. Johan Ehlers, uitvoerende hoof van Agri-Expo, het by die geleentheid gesê die organisasie vier 190 jaar van erfenis én 25 jaar van innovasie. “Die Kaap die Goeie Hoop Landbougenootskap is in 1831 gestig en Agri-Expo, ons bemarkingsnaam, in 1996.
“Vernuwing was nog altyd deel van ons DNS en sluit in die aanvoorwerk om georganiseerde landboustrukture soos die eerste departement van landbou in die Kaap in 1886, en ’n landboukollege in 1888, te vestig.”