
Volgens mnr. Jan-Carel Coetzee, bestuurder en wingerdboukundige van Arbelos Wines (’n samewerkingsooreenkoms tussen Slanghoek- en Botha-wynkelder), het die brand gisteraand (5 Februarie) in die berg bo Slanghoek-kelder ontstaan. Dit het intussen al verby Opstal-wynlandgoed en Slanghoek Mountain Resort gebrand.
Geen wingerde is tot dusver in die pad van die vlamme nie, maar boere was wel vroeg vanoggend bekommerd oor ’n blok Sauvignon blanc-wingerd wat teen die berg lê.
“Ons was nie van plan om vandag daardie druiwe te oes nie, maar het besluit om liewer in te gaan en die druiwe te pars,” vertel Coetzee.
“Daar is die risiko van rookbesoedeling op die druiwe en ek sal vandag na die tenke gaan kyk, maar ek twyfel of dit al ’n invloed sou hê. Die blok is vroeg genoeg gepars voor die rook nog daar kon deurtrek.”
Mnr. Attie Louw, wynmaker by Opstal-wynlandgoed, sê talle boere het dwarsdeur die nag brand geslaan saam met die brandbestryders.
“Die berg het lanklaas gebrand. Die plantegroei was baie droog en die brand maar kwaad. Ons het gasteverblyf op die plaas en moes verwoed keer dat die huisies nie brand nie. Vanoggend teen 03:00 het dit ook reg rondom een van my wingerdblokke gebrand, en ons moes daar keer. Ek het darem al die helfte van dié blok gepars het en sal nou korrels gaan toets vir rookbesoedeling.”
Volgens Coetzee was van die verblyfeenhede by die bergoord ook op ’n stadium in gedrang.
Louw glo die brand “is nou gewen”.
“Alles is swart. Die berg is kaal-kaal gebrand, daar is niks meer wat kan brand nie.”
Coetzee sê ook dit lyk of die helikopters die brand in bedwang het.
Luidens ’n verklaring deur die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit is sy branddienste en gekontrakteerde grondspanne gister om 21:00 ontbied. Hulle het veral gekonsentreer daarop om strukture teen die brand te beskerm. Altesaam sewe brandbestrydingsvoertuie was op die toneel.
Die brandbestrydingsdienste sal die res van die dag aktief die vlamme bestry.
“Die brand word deur ’n kombinasie van faktore, insluitend baie digte, gemengde plantegroei en ou proteas en bloekoms aangehits,” lui die verklaring.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.