
Makube sê 751 000 ha is verlede jaar met koring, gort, kanola en hawer beplant. Dié oppervlakte kan vanjaar vergroot aangesien die vooruitsigte vir die volgende seisoen gunstig is.
Volgens hom sal die oes van somergewasse en die plant van wintergewasse die vraag na en verbruik van brandstof op mediumtermyn laat toeneem. Die onlangse opwaartse neiging in ruoliepryse sal dus tot hoër produksiekoste lei.
Die prys van Brent-ruolie het onlangs tot meer as $60 per vat opgeskuif. In Februarie vanjaar het dit tot $65 per vat gestyg. Dit is onderskeidelik 19% en 18% hoër as die gemiddeldes vir Januarie vanjaar en Februarie verlede jaar.
Makube sê die toename in internasionale ruoliepryse het die sterker wisselkoers meer as verreken. In Maart kan petrol- en dieselpryse met onderskeidelik 66c en 57c per liter styg.
“Bedrywighede in die landbousektor sal na verwagting op mediumtermyn toeneem. Aangesien risiko’s vir ruoliepryse nie gaan verdwyn nie, sal die produksiekoste dwarsdeur die waardeketting, hetsy plant, oes, verspreiding of verpakking, toeneem.”
Volgens Makube sal veral graanprodusente en logistieke maatskappy in die landbouwaardeketting onder druk geplaas word aangesien nagenoeg 80% van graan padlangs vervoer word. “Veeboere en boere in die tuinboubedryf sal ook geraak word ten opsigte van die verspreiding van hul produkte landwyd en na uitvoermarkte.”
Hy waarsku dat die pryse van produkte wat uit ruolie gemaak word, soos kunsmis, onkruid- en insekdoders, ook kan toeneem. “Hopelik sal die rand sy huidige momentum behou en versterk om die verdere toename van brandstofpryse te beperk.”