
Twee ministers het by 'n konferensie oor transformasie 'n beroep op wit boere gedoen om swart opkomende boere te help.
Mnr. Senzeni Zokwana, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, het die voorbeeld van mnr. Bobby Godsell, voormalige uitvoerende hoof van AngloGold, gebruik, wat 'n mentor was vir mnr. Patrice Motsepe, mynmagnaat en een van die rykste mense in Afrika.
“Dit is hoekom ek 'n beroep doen op wit, kommersiële boere, sodat hulle kan sê: Hier is die boer wat ek gereed gemaak het. Ek het my geld in sy plaas gesit. Ons het saam gereis. Vandag kan hy op sy eie staan.”
Kan nie ontken nie
Me. Lindiwe Zulu, minister van kleinsake-ontwikkeling, wat ook by die African Farmers’ Association of South Africa (Afasa) se konferensie gepraat het, het gesê 'n mens kan nie ontken die meeste grootskaalse boere is wit nie, en dat dit weens die verlede is.
“Dit beteken nie ons moet sê wit boere moet doodgemaak of verwyder word nie. Dít wat reeds in landbou bestaan, moet beskerm word, sodat die land sy man in die wêreld kan staan, het sy onder applous gesê.
Sulke boere moet egter, vir hul eie volhoubaarheid en oorlewing, kyk hoe hulle ander kan help.
Swart boere moet kant bring
Sy het na me. Nono Sekhoto, voorsitter van Afasa-jeug, gewys en gesê: “Daar is baie wat sy van ou, wit boere kan leer.” Beide Zokwana en Zulu het swart boere vermaan om hul kant te bring.
Zokwana het gesê 'n boer kan nie net naweke op sy plaas wees nie, en Zulu het gesê swart boere behoort wit boere se voorbeeld te volg en geleenthede in Afrika te ontgin.
Zulu het wel na die belangrikheid van grond vir swart boere verwys en gesê daarsonder is radikale ekonomiese planne nutteloos.
“Kom ons kom ooreen: Grond moet aan ons mense teruggegee word, maar nie op 'n manier dat dít wat ons reeds het, vernietig word nie,” het sy onder nóg applous gesê.