
Met 'n reuse-belegging van R7 miljoen in 'n hidroponiese aanleg om witlof te produseer en markgereed te kry, het mnr. Fanie van der Merwe van Bronaar Plase in Ceres in die Wes-Kaap 'n kraakvars voordeel met dié groentesoort in Suid-Afrika: Hy is tans die enigste produsent van witlof in die land, maar lewer reeds 12 maande van die jaar vars produkte aan uitsoek-restaurante en kettingwinkels.
Hoewel Witlof reeds voorheen in Suid-Afrika geproduseer en ook as 'n finale produk ingevoer is, is Van der Merwe se geriewe die eerste wat 12 maande van die jaar witlof kan voorsien. Hy verwag dat die vraag daarna só sal groei dat hy vier keer meer as tans sal kan produseer.
Veelsydige groenteVan der Merwe, besturende direkteur van Bronaar Plase, het dié besondere groente aan die media in Kaapstad gewys en laat proe. "Ons is opgewonde om mense reg oor Suid-Afrika die geleentheid te gee om die veelsydige witlof te geniet, hetsy dit in vars vorm, of in gekookte disse is.”
Die groentesoort bevat lae koolhidrate en is hoog in vesel en lewer verskeie vitamiene, minerale en anti-oksidante. Dalk nét dié groentesoort vir kieskeurige verbruikers met dikker beursies?
Die produksie van witlof is nogal 'n uitdaging, sê Van der Merwe. Selfs in Nederland, waar van die beste boere in die wêreld dié produk verbou, is die ontkieming slegs 50%. Op Ceres behaal Van der Merwe 'n ontkieming van 30%. Hy voer sy sade van Nederland af in.
Duur produksieWitlof verg 'n twee-stadium groeiproses, wat produksiekoste redelik duur maak. "Sodra die witlof-wortels op die lande geoes is, vries ons dit totdat dit nodig is vir 'n vooraf beplande tweede groeistadium, hierdie keer heeltemal in die donker – hidroponies in 'n nutriënt-ryke wateroplossing," sê Van der Merwe.
Om die finale produk te verkry, word die gevriesde wortels in 'n nutriënt-oplossing geplaas, wat die vrug laat uitgroei. “Dit beteken dat ons 'n voorraad akkuraat kan beplan vir supermarkte soos Woolworths, Food Lover's Market, Checkers en ander,” sê hy.
Van der Merwe verduidelik dat die rede waarom die witlof-blaar 'n romerige wit is, is dat die son nie die groenkleurige chlorofiel ontwikkel het wat tipies tydens fotosintese voorkom nie. Ook, in teenstelling met baie ander blaargroentes wat in grond op landerye geproduseer word, is die witlof-chicon, die naam van die kop wat van die wortel groei, heeltemal skoon.
Wortels uit Nederland ingevoer"As gevolg van die lae opbrengs van wortels wat in ons hier in Suid-Afrika behaal, voer ons nou wortels direk vanaf Nederland en groei dan die witlof-chicon in ons doelgerigte hidroponiese aanleg in Ceres," sê Van der Merwe. Hy hoop om só sy produksiesyfer te verhoog.
In Europa is die maatstaf vir witlof-produksie 80kg per vierkante meter, maar in die plaaslike omstandighede is hy nader aan 50kg per vierkante meter. “Die plan is om hierdie persentasie te verhoog en ons glo dat ons die koste van die invoer van die wortels deur middel van verskeepte koelhouers sal verreken, om ons 'n groter verpakking te gee en groter volume in winkels te kry, "sê hy.
* Kontak van Fanie van der Merwe by: Tel: 023 317 0729, e-pos: fanie@bronaar.co.za
In die hidroponiese aanleg.
So lyk witlof.