Kommer heers oor die land se witmielie-voorraad met veral die informele mark wat kan swaar trek, sê Graan SA.
Mnr. Jannie de Villiers, hoof uitvoerende beampte, sê daar is ’n tekort aan plaaslike mielies met “ ’n chaos wat in die witmieliemark kan ontstaan.”
Volgens Sagis se jongste verhandelingsverslag is sowat 2,085 miljoen ton wit en geel mielies reeds in die huidige verkoopseisoen uitgevoer. Sowat 1, 408 miljoen ton wit mielies is reeds uitgevoer.
De Villiers sê volgens die jongste verwagting sal sowat 2,4 miljoen ton wit en geel mielies in dié verkoopseisoen uitgevoer word. “Die uitvoer van geel mielies het grootliks opgehou. Tot in April sal die oorblywende uitvoer na verwagting wit mielies wees.”
De Villiers sê aanvanklik is verwag dat die land se mielie-oes sowat 10,6 miljoen ton sou wees. Die oes was uiteindelik 10,3 miljoen ton, wat beteken die vraag was groter as die aanbod. Dít word as een van die redes vir die probleem aangetoon.
Informele sektor
De Villiers voorsien dat die informele mieliemeel-sektor in die komende maande voorraadprobleme gaan ervaar. Hy sê dié mark het homself nie so goed verskans soos wat die geval met formele markte is nie, wat tot hoër pryse vir produkte kan lei.
“As ons somme gaan maak, dan kort ons nog ’n groot klomp wit mielies. Ons is nie seker waar dié mielies vandaan gaan kom nie, want Amerika het nie baie uitvoervoorraad nie.”
Regulatoriese raamwerk
Intussen het mnr. Lourie Bosman, die Demokratiese Alliansie se woordvoerder vir landbou, me. Tina Joemat-Petersson, die Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, versoek om die regulatoriese raamwerk vir mielie-uitvoer in die land te hersien. Hy meen dat dit onaanvaarbaar is dat die land se mielies teen goedkoop tariewe uitgevoer is.
“Mielies kos die verbruiker sowat R2 600/ton, wat amper dubbel verlede jaar se prys is. Die prys sal na verwagting binne dae tot R3 000/ton styg. Dít is die gevolg van mielies wat goedkoop teen R1 400/ton na oorsese verbruikers uitgevoer is,” aldus Bosman.
Bosman sê dié situasie sal bykomende druk op arm huishoudings plaas. Die minister se opmerking dat die situasie ’n gevolg van die dinamika van die mark is, “is leeg en oppervlakkig”. Hy sê die situasie kon verhoed word.
Hoewel die DA ten gunste van ‘n mededingende mark is, is dit moeilik om te verstaan dat mielies ten koste van voedselsekerheid uitgevoer word.
12 Januarie 2012