Die wolmark het effens laer op Woensdag se veiling gesluit en Cape Wools se Merino-aanwyser met 0,8% teruggesak tot R62,56/kg (skoonwol).
Daar was nietemin ‘n goeie vraag na die fyner tipes wol en die pryse van dié tipes het ook gestyg vergeleke met verlede week. Daarteenoor was die sterker wol goedkoper. Volgens die kopers is die plaaslike pryse van veral mediumwol nou hoër as dié van soortgelyke tipes in Australië.
Die rand het stoom verloor en was 0,8% swakker teenoor die Amerikaanse dollar én die euro vergeleke met verlede week se wisselkoers.
Altesame 8 538 bale is aangebied waarvan 96% verkoop is.
Die gemiddelde pryse van lang, kamwoltipes (MF5) van gehalte (minder as 1% saadinhoud) was soos volg: 19 mikron was 1,5% duurder op R74,73/kg; 20 mikron verswak met 1,2% tot R65,48/kg, 21 mikron daal met 1,9% tot R62,86/kg en 22 mikron was 1,2% goedkoper op R61,54/kg.
Sowat 10 000 bale kom volgende week onder die hamer.
28 Oktober 2010