
Die kleinhandelgroep Woolworths hoop om einde vanjaar skaapvleis te verkoop met ’n “vriendelik teenoor wild”-etiket.
Woolworths het ’n vennootskap van R4,7 miljoen vir drie jaar met ’n aantal nie-regeringsorganisasies gesluit, sê me. Babongile Dlamini, Woolworths se woordvoerder.
Dis die grootste bedrag wat enige organisasie tot nog toe bewillig het om die konflik tussen boere en roofdiere op te los.
Die organisasies Conservation SA, Cape Leopard Trust, Endangerend Wildlife Trust en die Landmark Foundation, moet boere naby Woolworths-goedgekeurde slagplase werf vir ’n program wat nie-dodelike roofdierbekamping aanmoedig. Dit sluit in Anatoliese of Maluti-honde, llamas, halsbande, alpakkas en herders. Woolworths sal dan skaapvleis by dié boere koop.
Woolworths reken tot 80% van roofdiere word nog op tradisionele metodes doodgemaak, soos met valstrikke, wippe en gif. So vrek ander roofdiere, soos luiperds, dassies en aasvoëls, glo ook.
Me. Zyda Rylands, besturende direkteur van Woolworths se voedselafdeling, sê hul klante word meer bewus van die “ondiskriminerende en wrede metodes van roofdierbekamping”. “Hulle vra vir lamsvleis wat vriendelik is teenoor wild. Ons het al voorheen tien Anatoliese waghonde en ’n bewaringshandleiding vir skaap- en beesboere geborg. Ons meen boere raak ontvankliker vir alternatiewe en nie-dodelike roofdierbestryding.
‘‘As ons boere kan oortuig die vriendeliker metodes help om die delikate balans in die omgewing te bewaar én dit maak finansiële sin, sal ons binnekort wildvriendelike lamsvleis op ons rakke hê.”
Mnr. Harry Prinsloo, nasionale voorsitter van die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV) en die Roofdierbestuursforum (RBF), was nie bewus van hierdie projek nie, maar meen die doelwitte sal dieselfde wees as wat die wolskaapbedryf se kode vir beste praktyke voorskryf: “Wat my betref, is al ons vleis eintlik roofdiervriendelik omdat ons dié kode nastreef.”