
Die 18-maande-beleë cheddar, wat uitsluitlik vir Woolworths vervaardig word, is op 25 Maart 2022 by Cavalli Estate buite Stellenbosch as Suiwelproduk van die Jaar bekroon. Dié cheddar is ’n volronde kaas met ’n neutagtige en effens pikante geur.
Altesame 26 produkte is met die Qualité-merk van gehalte vereer, terwyl 105 as SA kampioene – die wenners in elke kampioenskapklas – aangewys is.
“Vir ’n produk om gekies te word as Produk van die Jaar in ’n kompetisie van hierdie omvang, is die droom van elke suiwelvervaardiger,” sê mnr. Alan Fourie, suiwelkenner en hoofbeoordelaar.
Mnr. Alban Damour, hoofbestuurder van Lactalis Suider-Afrika, sê sy kaasspan is verheug daaroor dat die gehalte van hul produkte die derde agtereenvolgende jaar erken word. Lactalis SA waardeer ook die werk wat Agri-Expo doen om die plaaslike suiwelbedryf te erken en te vier.
‘n Viering van innovasie
Die plaaslike suiwelkampioenskap word sedert 1834 deur Agri-Expo aangebied. Volgens mnr. Johan Ehlers, uitvoerende hoof van Agri-Expo, is dit ’n voorreg om die kampioenskap die 189ste keer aan te bied, aangesien Agri-Expo, die oudste landbougenootskap in Suid-Afrika, ook 190 jaar van erfenis en 25 jaar van innovasie vier.
In 2020 is die eerste virtuele toekenningsgeleentheid in die Suid-Afrikaanse landbousektor aangebied. Die toekenningsgeleentheid is op Cavalli Estate en Agri-Expo se webwerf aangebied.
“Innovasie kenmerk inderdaad hierdie gesogte vlagskipprojek oor baie jare,” sê Ehlers. Die Qualité-merk is in 2001 geskep as die enigste merk van uitnemendheid vir Suid-Afrikaanse suiwelprodukte.
Lesers kan by www.cheesesa.co.za/sa-dairy-awards na die toekenningsgeleentheid kyk.