Na aan die kern van Suid-Afrika se ekonomiese hartklop is beurtkrag “ ’n nagmerrie”, en mnr. Vito Rugani van Greenway Farms by Tarlton moet skarrel om aan die gang te bly. Een van die opofferings was ’n koring-oes van meer as 300 ha onder besproeiing om 900 ha wortels te red.
“Ons kon net genoeg koring stroop om ons basiese koste te dek vanweë die kragonderbrekings. Dit is ’n ernstige situasie. “Ons het pas begin om ’n sonkragstelsel van R18 miljoen by ons pakhuis op te rig om ten minste daar gedeeltelik onafhanklik van Eskom te kan wees.
"Ons bly in ’n land met soveel steenkoolreserwes wat ons nou aan Europa verkoop, terwyl ons hier moet oorskakel na sonenergie. Ek weet nie of dit op lang termyn werklik die antwoord gaan wees nie. Dit is baie duur en ons sal nog moet sien of dit werklik die krag gaan lewer wat die stelsel beloof.”