Mnr. Jurry Kuipers, eienaar van die plaas, sê die strukture van ’n groep onwettige plakkers op ’n aangrensende stuk grond is op 8 Junie verwyder ingevolge ’n hofbevel. Hy het self niks met die afsetting te doen gehad nie. Die plakkers het die veld die betrokke aand aan die brand gesteek, maar dit kon geblus word.
Kuipers het wagte by die skuur gehad en het nie gedink die plakkers sal tot daar kom nie. In die vroeë oggendure van 10 Junie het die wagte hom egter laat weet die skuur brand. Hy woon nie self op die plaas nie. “Ek het soontoe gejaag en ’n laaigraaf was reeds aan die brand. Ek vermoed hulle het dit aan die brand gesteek, en ook die bale reg rondom die skuur.”
Kuipers en die wagte kon daarin slaag om vier trekkers, ’n voermenger en twee baalmasjiene te red, maar die skuur van 2 000 m2 is kromgetrek, die bale vernietig en ’n groot Deutz-trekker het ook in die slag gebly. Vier weke tevore is 100 bale ook verbrand wat op die lande naby die hutte gestaan het. “Dít terwyl ek niks met die uitsetting te doen gehad het nie. Daar was ’n wettige hofbevel en die Tshwane-munisipaliteit is verantwoordelik vir die uitvoering van die hofbevel.”