Die wyntoerismebedryf is volgens die Minister van Toerisme, mnr. Marthinus van Schalkwyk, een van die snelgroeiendste en lonendste sektore van die toerismemark. Van Schalkwyk het dié uitspraak Maandag by ’n werksessie op die landgoed Spier naby Stellenbosch gemaak, aldus 'n berig op Fin24.com.
“In Suid-Afrika speel ons wynbedryf ’n belangrik rol in spesifiek die bydrae tot streeks- en landelike ekonomiese groei en werkskepping,” aldus Van Schalkwyk.
Van Schalkwyk het ook gesê wyntoerisme het in 2009 sowat R4,3 miljard tot Suid-Afrika se toerisme-inkomste bygedra en daar is steeds ruimte vir groei.
Deur dié inkomste te laat groei, kan die plaaslike wynbedryf nadelige faktore, soos wisselings in die vraag na wyn en die invloed van die skommeling van die rand, weerstaan.
Wyntoerisme is ’n belangrike deel van die Suid-Afrikaanse toerismeproduk wat die land se mededingendheid teen sekere lande, soos Brasilië, Australië, Kenia en Thailand, versterk,” sê Van Schalkwyk.
Bron: Fin24.com
18 April 2011