
Die wynbedryf versoek Suid-Afrikaners en besighede om met gesonde oordeel hul verantwoordelikheid te aanvaar om die gesondheid, veiligheid en lewensbestaan van mense te verseker deur die gesondheidsmaatreëls wat reeds ingestel is, toe te pas.
Só sê mnr. Rico Basson, bestuurshoof by Vinpro, ná pres. Cyril Ramaphosa se toespraak gisteraand. Geen noemenswaardige veranderinge aan bestaande maatreëls is aangekondig nie.
Hy sê die bedryf, wat werksgeleenthede aan byna 269 000 mense bied en R55 miljard tot die ekonomie bydra, is op die herstelpad ná vele terugslae die afgelope twee jaar weens die covid-19-pandemie. “Ons sukses sal egter afhang daarvan of die regering ’n omgewing vir groei en herstel kan skep. Dit sluit in gesonde beleidsbesluite gegrond op empiriese data.”
Meer as 400 van die 529 wynkelders is klein en mediumgroot ondernemings en hoogs afhanklik van wyntoerisme vir hul bestaan. Met die eensydige reisverbod wat die afgelope paar dae opgelê is, het die toerismesektor oornag feitlik 100% van sy winsgewende inkomende internasionale toerismemark verloor, wat wesenlike implikasies inhou.
Basson sê terwyl die binnelandse vakansieseisoen deurslaggewend is vir die voortbestaan van die plaaslike toerismebedryf, sal verdere beperkings op die binnelandse toerismebedryf katastrofies wees vir besighede en werksgeleenthede.
“Dit is uiters belangrik dat die regering deeglik konsulteer en ingelig is oor die impak wat besluite rondom covid-19 en moontlike beperkings inhou vir die onderskeie sektore, hul werkerskorps en omliggende gemeenskappe,” sê Basson.
Vinpro en sy bedryfsvennote skakel daarom deurlopend met meer as tien staatsdepartemente om hulle die nodige inligting te gee sodat hul besluite rakende handelsbeperkings en ander beleid gegrond is op feite, insluitend ekonomiese werklikhede wat werksekerheid bedreig. Die bedryf is ook voortdurend in gesprek met die regering om die moeilike situasie by die Kaapstadse haweterminaal te verbeter, wat uitvoer kniehalter. Hy het ook verligting ten opsigte van aksynsbelasting versoek.
Die wynbedryf het proaktief opgetree om die verspreiding van covid-19 te bekamp deur die toepassing van streng maatreëls regdeur die wynbedryf se waardeketting. Hy het doelgerigte inisiatiewe onderneem wat konsentreer op die vermindering van onder meer die skadelike nagevolge van drankmisbruik, onwettige handel en padveiligheid gedurende die feestyd, asook verantwoordelike handel en bemarking.
“In die aanloop tot die feestyd en in die lig van ’n dreigende vierde covid-19-golf, doen ons ’n beroep op die regering om die voortou te neem in die land se reaksie op die omikron-stam deur die inentings op te skerp, die gesondheidstelsel deeglik voor te berei en wetgewing met betrekking tot covid-19-protokolle streng toe te pas, soos die dra van maskers, die reiniging van hande en die handhawing van persoonlike afstand,” sê Basson.
“Al die maatreëls is gereed om ons veilig te hou. Kom ons gebruik dit.”