
“Die wyn- en brandewynbedryf is tevrede met die inflasionêre verhoging wat vir hierdie produkte aangekondig is. Hierdie verhoging stem ooreen met die beleidsraamwerk wat in 2014 ingedien en bespreek is,” lui ’n verklaring deur Vinpro.
Mnr. Rico Basson, besturende direkteur van Vinpro, sê dit sal “broodnodige en voordelige” groei vir die bedryf verseker.
“Die wyn- en brandewynbedryf maak op die Regering se ondersteuning en samewerking staat om sy waarde-aanbod in die internasionale arena te verbeter.”
Verlede jaar was die bedryf erg teleurgesteld omdat die verhoging in aksyns meer was as inflasie. Basson het die Regering toe gevra om die bedryf te steun met onder meer sy strategiese plan vir beter marktoegang, belegging in infrastruktuur en navorsing, asook die uitskakeling van rompslomp ten opsigte van prosesse.
Werkskepping en opheffing
Die waarde van Suid-Afrikaanse wynuitvoer het verlede jaar gegroei. Basson sê dis belangrik om hierdie momentum te behou, veral omdat die droogte steeds ’n invloed op vanjaar se oes het – en die inflasionêre verhoging in sondebelasting sal beslis help.
Boonop skep die bedryf meer as 290 000 werkgeleenthede en dit dra R36,1 miljard tot die bruto binnelandse produk by.
“Die bedryf se volhoubaarheid strek tot voordeel van werkskepping en maatskaplike opheffing en behoort hoë voorrang by die Regering te geniet.”
Tabakbelasting span kar voor die perde
Intussen sê die Tabak-instituut van Suid-Afrika (Tisa) hoewel hy mnr. Tito Mboweni se steun vir ’n nuwe eenheid teen onwettige ekonomie bedrywighede verwelkom, is die organisasie teleurgesteld in die verhoging van aksynsbelasting op tabakprodukte.
’n Styging van 7,4% verhoog die belasting op ’n pakkie sigarette van R15,52 tot R16,66. Tisa sê die verhoging is meer as inflasie en totdat die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) se eenheid resultate behaal, is hierdie belasting teenproduktief.
“Dit plaas die staat se inkomste en duisende werkgeleenthede in gedrang,” sê mnr. Francois van der Merwe, voorsitter van Tisa. “ ’n Verhoging in belasting sonder daadwerklike stappe om die sluikhandel hok te slaan sal eenvoudig bydra tot ’n sterker mark vir goedkoop, onwettige sigarette.”
Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.