
Volgens mnr. Bennie Wannenburg, bestuurder en wynmaker by Waboomsrivier, toon hul kamerastelsel dat daar omstreeks 00:30 ’n betreder op die perseel was. Dié persoon het onder meer die kameras bedek. Skade aan traliewerk getuig ook van die inbraak.
“Kort voor 05:00 het die eerste mense gewaar dat die geboue brand, maar teen daardie tyd was dit al bykans afgebrand,” vertel Wannenburg.
Hy sê hulle kan nog nie ’n definitiewe verband tussen die brand en die inbreker tref nie. “Dalk was dit toevallig dat albei op een nag gebeur het.”
Buiten die gebou met sy pragtige fassade, houtmeubels en dokumente, het een van die kelder se spogwyne ook in die slag gebly.
“Ons het pas ’n gouemedalje op die Veritas-wynkompetisie vir ons Arborea
Red gewen. Daar was nie baie van die wyn oor nie, maar ons het alles afgeskuif
proelokaal toe, en nou is alles tot niet,” sê Wannenburg, maar voeg dat hulle
nie te veel wyn verloor het nie. Die kelder is meer bekend as
grootmaatprodusent.
“Die hele gebou is afgebrand. Jy wil nie weet watter hitte dit was nie, selfs die wasbak en toilet is uitmekaar geskiet en die pleister van die mure afgebrand.”
Hy is wel verlig die brandkluis “het sy werk gedoen”, wat verdere verliese voorkom het.
Die polisie was op die perseel en forensiese kenners sal ook die toneel fynkam.
“Die ingenieur en assessors kom môre, dan sal ons ’n beter idee hê oor die skade,” sê Wannenburg.
Alle verkope en aktiwiteite gaan intussen voort by Waboomsrivier-wynkelder.Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.