
Dit kom nadat die NRP sy huissittings moes afhandel voor die algemene verkiesing op 8 Mei.
Die wet het op 1 Januarie in werking getree. Dit verplig ’n minimum betaling van R20/uur vir ’n werker. Die landbousektor het egter spesiale vergunning gekry vir die infasering van die loon en sy minimum loon vir vanjaar is R18/uur.
Die wysiging is nodig omdat ’n verwysingsfout ingesluip het.
’n Seksie in die nuwe wet wat aandui dat dit onbillike arbeidspraktyk vir werkgewers is om lone, werkure of ander voorwaardes van indiensneming te verander in reaksie op die toepassing van die minimum loon, is aan die verkeerde klousule in die wet toegewys.Weens dié fout bepaal die wet nou dat die betaling van die minimum loon terugwerkend geld vanaf 1 Mei 2017. Die nasionale vergadering het die wysiging goedgekeur voordat hy op 20 Maart vir die verkiesing verdaag het.
Mnr. Matthew Parks, parlementêre koördineerder van Cosatu, sê die vakverbond is teleurgesteld dat die NRP toegelaat het dat administratiewe kwessies die bekragtiging van die wysigingswetsontwerp vertraag. “Dit is ten spyte van herhaalde samesprekings. Dit sal onmiddellik ná die verkiesing op 8 Mei deur die NRP aan die gang gesit moet word.”
Koolstofbelasting
Met klimaatsverandering wat reeds telkemale sy verwoestende gesig gewys het, wag die wetsontwerp op koolstofbelasting (B46 van 2018) om uiteindelik deur pres. Cyril Ramaphosa bekragtig te word.
Daar is langer as ’n dekade aan hierdie belangrike wetgewing gewerk. Die nasionale vergadering en die NRP het die wetgewing deurgevoer voordat hulle vir die verkiesing verdaag het.
Die wetgewing sal, soos aangedui deur die nasionale tesourie, op 1 Junie vanjaar in werking tree. Die wetgewing word gesien as ’n fundamentele deel van die stelsel om regeringsbeleid op klimaatsverandering toe te pas.
Die primêre landbousektor is egter tot 31 Desember 2022 uitgesluit en sal eers daarna aan die belasting onderworpe wees.
Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.