Die Zebediela-sitruslandgoed was eens een van die grootste sitrusprodusente in Suid-Afrika. In 1978 is daar volgens Readers’ Digest nagenoeg 400 miljoen lemoene per jaar in dié landgoed se 2 260 ha boorde gepluk.
Later, onder die bestuur van die regering se Landbou- en Landelike Ontwikkelingskorporasie het die boerdery egter gekwyn. Van ’n sitrusoes wat in die laat 1980’s R30 miljoen per jaar werd was, kon daar teen 2001 net 10% van die 800 oorblywende hektare se oes uitgevoer word.
In 2003 is die grond en die maatskappy Zebediela Citrus (Edms.) Bpk. aan die Bjatladi-gemeenskap van Zebediela oorhandig ná ’n suksesvolle grondeis. Die verhouding met hul eerste strategiese vennoot het skipbreuk gelei en is uiteindelik deur die hof ontbind.