
Volgens mnr. Wandile Sihlobo, ekonoom by die landbousakekamer Agbiz, sal Mosambiek en Zimbabwe na verwagting die meeste mielies moet invoer weens ongunstige produksietoestande. Die somerseisoen vir verbouing van mielies het in albei lande swak begin, met droogtetoestande wat plantmoontlikhede vertraag het. Toe dit wel begin reën het, was die neerslag buitengewoon hoog, wat die aanplantings in dele benadeel het.
Zimbabwe se mielieproduksie word uit verskeie oorde geraam op 1,7 miljoen ton vir die 2018-’19-bemarkingsjaar, ’n verwagte afname van 21% teenoor die vorige jaar. Dit is egter ’n verbetering teenoor die vorige skatting van 1,2 miljoen ton. Die land se bemarkingsraad het vroeër aangedui dat hy 750 000 ton mielies wil aankoop om aan sy binnelandse behoefte van 2 miljoen ton te voldoen. Dit is, naas die invoer van 1,4 miljoen ton in 2016, die grootste volume mielies nóg wat die land benodig.
Dit is ook nog onseker uit watter oorde dié mielies ingevoer kan word, aangesien die produksie in Zambië en Suid-Afrika – wat die streek se tradisionele uitvoerders is - self onder druk verkeer.
Suid-Afrika kan sowat 1,1 miljoen ton van sy mielieproduksie afstaan, wat vir aangrensende buurlande bestem is.
’n Moontlike verskaffer is Mexiko, wat sowat 1 miljoen ton in die 2019’-20-bemarkingsjaar beskikbaar het.Wat Mosambiek betref, is die verwagte daling in mielieproduksie 27% teenoor die voorafgaande jaar. Die oes word geskat op 1,8 miljoen ton, met dié land se jaarlikse binnelandse behoefte wat op 2,1 miljoen ton staan.
Die verwagte vraag na veral witmielies kan in die komende maande prysdruk vir mielies laat toeneem.
Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.