
Die kapasiteit vir die uitreik van permitte rakende die beperkte metodes om van skadeveroorsakende diere ontslae te raak, verg verdere samesprekings met die Minister van Omgewingsake, het mnr. Senzeni Zokwana, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, gesê.
Zokwana het die Nasionale Raad vir Provinsies toegespreek oor die norme en standaarde vir skadeveroorsakende diere en sy kommer uitgespreek oor of genoegsame vermoë bestaan om die voorgestelde maatreëls in te stel.
Die veebedryf, wat 'n belangrike sektor vir die land is, word op groot skaal blootgestel aan skade wat dié diere veroorsaak. Volgens die NWKV word dié verliese in die veebedryf tot meer as R1 miljard bereken.
"Die skade wat hierdie diere veroorsaak, raak die winsgewendheid van die besigheid en is veral 'n harde slag vir kleinskaalse produsente. "Die verliese wat deur dié diere veroorsaak word, het selfs veediefstal in die land verbygesteek, het Zokwana gesê.
Hy het bygevoeg dat hoewel konsensus bestaan rakende die omstandighede waaronder boere vergoeding weens skade deur die diere toegestaan kan word, moet verdere samesprekings gehou word om enige dubbelsinnigheid rakende nalatigheid deur 'n produsent vas te stel.
Zokwana het gesê boere, produsente en plaaswerkers moet veilig voel en veilig wees. Hulle bestaansmiddelle en inkomste moet ook beskerm word. Om dit te vermag, sal die Regering ingrypings moet skep wat dié soort diere identifiseer en verwyder.
"Ons moet ook maatreëls implementeer om skade deur dié diere te beperk. Ons is voorstaanders van nie-dodelike metodes, met dodelike metodes as 'n laaste uitweg."
Zokwana het benadruk dat die metodes egter wel ondersteuning deur die wetenskap moet geniet.