Swart opkomende boere en tradisionele leiers in die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal het voordeel getrek uit pres. Jacob Zuma se pogings om stemme in die komende verkiesing te werf.
Zuma het as deel van sy veldtog om vir ’n tweede termyn as Suid-Afrikaanse president verkies te word deur die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal gereis en 14 trekkers ter waarde van R4 miljoen sowel as Nguni-beeste aan tradisionele leiers en swart opkomende boere in die voormalige Transkei en Ciskei oorhandig.
Die 14 trekkers is geskenk met die hulp van die landelike ontwikkelingsprojek by Masibambisane in KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap, berig The Mail and Guardian.
Verskeie ministers, insluitend min. Tina Joemat-Pettersson, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye; min. Edna Molewa, Minister van Waterwese; en min. Gugile Nkwinti, Minister van Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling; het saam met Zuma die oorhandiging bygewoon.
Volgens mnr. Selby Bokaba, woordvoerder vir die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye, het Joemat-Pettersson se departement vir die trekkers betaal as deel van sy meganisasieprojek.
Bokaba sê die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye het egter nie vir die Nguni-beeste betaal nie.
Intussen kla talle ANC-lede oor Zuma se verkiesingsveldtog en beweer hy gebruik staatshulpbronne om stemme te werf. Daar word ook beweer dat die Suid-Afrikaanse president staatsdepartemente “boelie” om verskeie skenkings te maak. Lees hier meer.
Bron: The Mail and Guardian
7 Mei 2012