Die Regering oorweeg glo drie planne vir grondbehoud om hervorming te bevorder, het pres. Jacob Zuma Saterdag (8 Januarie), tydens die ANC se 99ste bestaansjaarvieringe op Polokwane gesê.
Luidens ‘n berig op Gulf Times kyk die Regering daarna dat staatsgrond slegs uitverhuur mag word, ‘n plafon daargestel word vir private eienaarskap en dat grond slegs aan buitelanders verhuur mag word, maar aan ‘n Suid-Afrikaner moet behoort.
Lees ook:
Buitelanders koop meer grond as staat
Volgens die president sal grondhervorming nou gebaseer word op die nie-rassigheid van landelike ekonomieë. Hy meen transformasie is die sleutel tot die voordele van demokrasie en werkskepping. “Politieke bevryding sonder transformasie is waardeloos,” aldus Zuma.
Verkiesingsbeloftes?
Intussen sê Agri SA in reaksie op Zuma se toespraak dat grondhervorming meer as verkiesingsbeloftes vereis. Luidens ‘n verklaring sê mnr. Johannes Möller, voorsitter, die tyd het aangebreek dat die georganiseerde landbou, die privaatsektor en die Regering moet saamwerk om grondhervorming te bevorder.
“Gee die privaatsektor die nodige ruimte en finansiële ondersteuning om te demonstreer wat in dié verband vermag kan word. Ek dra kennis van boere wat deur byvoorbeeld aandeelhoudingskemas die Regering daadwerklik met grondhervorming kan ondersteun,” sê Möller.
Hy sê die georganiseerde landbou is bereid om ‘n positiewe vorderingsverslag oor ‘n tydperk van drie jaar aan die Regering te verskaf. “Natuurlik sal ons ook met plaaslike owerhede moet saamwerk om daadwerklike vordering in dié verband te registreer en ondersteun ons gevolglik pres. Zuma in sy strewe na ‘n doeltreffende derdevlak-regering.”
Volgens Möller moet die situasie rondom grondhervorming binne die volgende twee jaar uitgesorteer word aangesien dit veral voedselsekerheid ernstig ondermyn.
Lees ook:
Eiendomsreg nie ondermyn - Zuma
Gevaarlike voorneme
Intussen sê mnr. Werner Weber, die Vryheidsfront Plus se woordvoerder oor grondsake, rakende die konsepwetgewing oor verblyfreg: “Die Regering se voorneme om grond namens plaaswerkers te bekom deur gebruik te maak van ingrypende onteieningsmagte is ‘n gevaarlike en onverantwoordelike voorneme.”
Die wet is op 24 Desember verlede jaar in die Staatskoerant gepubliseer.
Weber meen dat die wetgewing die hoeksteen van ekonomiese stabiliteit uit eiendombeginsels verwyder. “Die ANC-regering blyk daartoe verbind te wees om eiendomsreg in Suid-Afrika te verander weens politieke oorwegings, maar besef nie wat die gevolge van dié neiging kan wees nie,” sê Weber.
11 Januarie 2011