Pres. Jacob Zuma moet ondanks die ANC se 100ste bestaansjaar wat vanjaar gevier word, verseker dat strukturele probleme in die land en ekonomie daadwerklik aangepak word, aldus Agri SA.
Luidens ’n verklaring verstaan die organisasie dat 2012 ’n belangrike jaar in die bestaan van die party is, maar hy meen Zuma moet in sy staatsrede probleme uitwys en oplossings aanbied.
“Die verswakking van die globale ekonomiese situasie verskaf ernstige uitdagings aan die plaaslike ekonomie en vir ekonomiese groei en werkskepping in die besonder, maar dit moet nie as ’n rede gebruik word om die aandag van ernstige kwessies weg te lei nie,” sê mnr. Johannes Möller, voorsitter van Agri SA.
Openbare diens
Möller sê hulle verwag dat die feit dat baie staatsdepartemente gekwalifiseerde oudits van die Ouditeur-generaal ontvang het, asook dat stappe deur die Tesourie gedoen is om sommige provinsiale regerings onder administrasie te plaas, hoog op Zuma se agenda moet wees.
“Suid-Afrika se openbare sektor val nie onder die 60 lande wat die minste korrup in die wêreld is nie, en dit doen skade aan Suid-Afrika se beeld van ’n beleggingsvriendelike land. Ons verwag van hom om deeglik aandag aan dié sake in sy staatsrede te gee,” sê Möller.
Uitgawes aan salarisse in die openbare sektor het die afgelope vyf jaar verdubbel, en Möller meen dat dít ’n teken moet wees dat die bogenoemde probleme minder moet voorkom. Hy sê dit lyk egter asof ’n “gebrek aan kapasiteit” ’n standard-verduideliking word vir swak dienslewering en ’n gebrek aan beleidstoepassing.
Arbeid
Möller sê die organisasie het die ernstige aantygings opgemerk wat die afgelope maande en veral verlede naweek oor arbeid op plase en toestande vir werkers op plase gemaak is.
“Hoewel ons organisasie ten gunste is daarvan dat die wet toegepas moet word, het dit in die afgelope tyd duidelik geword dat geïsoleerde voorvalle wat met arbeid op plase verband hou, kwaadwilliglik opgehemel word om dit as ’n algemene situasie binne die sektor uit te beeld.”
Die organisasie sê hy is ten gunste van objektiewe navorsing oor arbeidspraktyke wat tans toegepas word. Hulle vra dat die Regering die landbou-sektor sal insluit in die proses om arbeidskwessies te hanteer, en nié dreigemente sal maak wat werkskepping in die bedryf kan kelder nie.
Verder hoop Möller ook dat kwessies oor die Verblyfregwet, grondhervorming en ondersteuning aan boere wat subsidies en veiligheid betref, Zuma se aandag sal geniet.
6 Februarie 2012