
Hy sal nooit skaam wees vir die ontwikkeling van miljarde naby sy tuisdorp, Nkandla, in KwaZulu-Natal nie, het pres. Jacob Zuma in die Nasionale Vergadering gesê.
Parlementslede het die geleentheid gehad om vrae aan die president in die Huis te vra. Die Nkandla-ontwikkeling en die Marikana-mynkwessie was hoog op die agenda.
Daar word berig dat R2 miljard bestee sal word aan die Umlalazi-Nkandla Smart Growth Centre, sowat 3 km van Zuma se woning.
Maar volgens die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming sal die koste van die projek net oor ’n miljard beloop. Me. Lindiwe Mazibuko, die DA se leier in die Parlement, het Zuma aangevat omdat daar binne ’n radius van 100 km van Nkandla dorpies is soos Amasango Amnyama, Ebizimali en Eqhudeni wat steeds sonder basiese dienste, soos water en elektrisiteit, is, maar die gebied naby sy woning kry voorkeur.
Nkandla
Zuma het gesê dat Nkandla, wat een van die armste plekke in die provinsie is, is nie die enigste distrik in die land wat deur die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming ontwikkel word nie. Hy het gesê hy weet nie waarom hierdie plek nie ontwikkel moet word net omdat hy daarvandaan kom nie.
Daar is 23 distrikte deur die Regering uitgewys vanweë hul diep gesetelde armoede. Zuma het gesê dit is ’n jammerte dat Nkandla soveel aandag ontlok. Oor die miljarde wat daar bestee gaan word, het hy gesê alle dorpe kan nie oor dieselfde kam geskeer word op grond van wat hulle nodig het nie.
Hy het ook benadruk dat die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye nie die Umlalazi-projek ondersteun nie. Die Departement ondersteun wel landboubedrywighede in die gebiede waar dit benodig word.
Die Sondagkoerant City Press het vroeër berig dat hy in besit is van ’n dokument wat daarop dui dat meer as R800 miljoen vir die Masibambisane-projek (oftewel Zumaville) deur die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye begroot is. Die Departement ontken dat dit die geval is.