
Die eerste week in Mei verskyn die nuwe uitgawe – ons tiende verjaardaguitgawe – van Landbou Boerekos! Dit beteken daar is nog net ’n paar dae om ons 19de uitgawe, ‘n ode aan formidabele vroue in die kos- en landboubedryf, aan te skaf. Vir hierdie uitgawe het ons by verskeie vroue gaan kuier, saam met hulle gekook, deur boorde en landerye gestap, na hulle ongelooflike stories van durf en deursettingsvermoë geluister. Dit het my ontsettend geinspireer, soos ek glo jy ook sal voel as jy die onderhoude en artikels oor hierdie vroue lees. Een van die lekkerste afdelings om aan te werk is ons gereelde promosie-afdeling in samewerking met Freshmark. Die keer het ons by vroueboere en produsente gaan uitvind wat hulle boerderye en besighede so suksesvol maak. En oudergewoonte het ons lekker gekook en -bak met kraakvars plaasprodukte van Freshmark. Ek gee hierdie week vir julle agt van hierdie fantastiese ‘Freshmark-vroue’ se resepte. Lekker kosmaak!