
Die stormagtige weer wat die afgelope tyd oor dele van die somerreënstreek voorgekom het, is normaal vir hierdie tyd van die jaar, veral weens die oorgang van seisoene met die somer wat aanbreek, sê mnr. Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige.
Van den Berg sê op kort termyn word min reën oor die grootste deel van die somerreëngebied verwag, met die uitsondering van die Laeveld waar ligte reën van 9 tot 18 November moontlik is. Temperature van 30 °C en hoër is oor die sentrale dele van die land moontlik, met temperature van 35 °C en hoër van 10 tot 18 November oor die noordelike en noordwestelike dele van die land.
“Wat die res van die somerreëngebied betref, verbeter die toestande vir reën in die oostelike helfte van die land rofweg oos van die N1 vanaf die Vrystaat tot in Limpopo in die laaste deel van November. Dit lyk ook gunstig oor die grootste deel van die Oos-Kaap vanaf die laaste ongeveer tien dae van November."