
Bedrywe reg oor die wêreld doen navorsing oor kostedoeltreffendheid weens die ekonomiese toestande wat tans heers. Suid-Afrika is geen uitsondering nie. Angus Suid-Afrika en Angus wêreldwyd het hierdie navorsing reeds vir elke boer gedoen. Met die grootste genepoel ter wêreld is die Angus verseker die ras vir die toekoms. Die vleis- en poenskopeienskappe is oor baie jare vasgeteel en daar is niks wat sy stempel só op ’n kudde kan afdruk soos ’n Angus-bul nie.
’n Blik op 2021
Verlede jaar was ’n uitstekende jaar vir die ras. Altesaam 21 stoetveilings is aangebied onder die beskerming van die Angus-beestelersgenootskap van Suid-Afrika. Bulle is teen ’n gemiddelde prys van R53 000 verkoop. Hierdie bulle het almal ’n baie streng keuringsproses deurgegaan voordat hulle op veilings aangebied is.
Vroulike stoetdiere van dié ras het talle rekordpryse behaal en die vroulike Angus-diere is ook kommersieel hoog in aanvraag. Dit dui daarop dat kommersiële boere die waarde van Angusse as basiskudde raaksien. Hierdie resultate spreek boekdele oor die gesondheid van die Angus-ras in Suid-Afrika.
Kies om dié redes die Angus
Wanneer dit kom by vleisbeeste, waarom moet die Angus jou eerste keuse in 2022 wees? Aanpasbaarheid, gehardheid en vrugbaarheid is redes wat al holrug gery is wanneer oor die eienskappe van beesrasse gepraat word. Hoewel hierdie eienskappe belangrik is, is dit tyd om na ’n paar feite te kyk.
Die boer se hoofdoel is om geld in sy sak te steek. As ’n mens TABEL 1 bestudeer, is dit duidelik dat Angusse jou op kort en lang termyn meer geld in die sak bring.
Die rede is eenvoudig. Die Angus gee kalwers met ’n lae geboortegewig, wat vinnig groei en steeds swaarder as enige ander ras speen. Jy as kommersiële boer kan dus ’n swaarder kalf speen en boonop ’n premie op jou speenkalf kry omdat dit ’n Angus is.
Die vraag na Angus Beef in Suid-Afrika is die hoogste wat dit nog was en die mark groei vinnig. Daar is tans nie ’n vaste premie op Angus-kalwers nie. Op veilings en by voerkrale het hierdie ras se speenkalwers egter die afgelope jaar gemiddeld R1/kg meer behaal.
Omdat voerkoste skerp styg, is daar toenemend druk op voerkrale om te verseker hulle koop gehaltekalwers wat in die voerkraal sal presteer. Kommersiële boere moet daarom verseker dat hulle bulle van gehalte gebruik om kalwers te produseer wat in alle omstandighede presteer.