
Dit is die eerste keer in die groep se geskiedenis dat hy ’n spesiale bonus aan bykans 1 000 mense sal betaal.
“Die spesiale bonus sal gegee word in ’n gees van dank aan die personeel wat ’n baie moeilike jaar saam met die groep deurgemaak het,” sê mnr. Louw van Reenen, uitvoerende hoof van die Beefmaster-groep. Die betaling sluit nie afsonderlike toekennings onder prestasiegebaseerde bonusse in nie en word bykomend tot ander gereelde finansiële vergoeding aan werknemers betaal.
Die uitbetaling is ’n welkome meevaller vir personeel en gesinne van werknemers van die Beefmaster-groep. Na raming sal minstens 4 000 mense deur dié bonus geraak word.
“Ons weet nie van enige ander Suid-Afrikaanse maatskappy wat ’n spesiale Covid-19-bonus aangekondig het om personeel wat regdeur die hele pandemie gewerk het, te vereer nie,” sê Van Reenen.
Hierdie nuus is belangrik gegewe die ekonomiese gevare wat baie Suid-Afrikaanse maatskappye in die gesig staar as gevolg van die inperkingsmaatreëls wat in 2020 ingestel is - van ontslag en afleggings tot verminderde salarisuitbetalings en sluiting van besighede.
Amazon, asook verskeie ander maatskappye wat buite Suid-Afrika gesetel is, het onlangs soortgelyke aankondigings gedoen. Dié e-handelaar, wat ’n groot oplewing in verkope tydens die pandemie ervaar het, sal $500 miljoen se vakansiebonusse aan werkers in die voorste linies uitbetaal.
Anders as Amazon het die Beefmaster-groep nie in 2020 ’n oplewing in sakebedrywighede beleef nie, maar nieteenstaande besluit om voort te gaan met die spesiale bonusuitbetaling aan personeel.
“Volume, deurset en produksie by ons Kimberley-vleisverwerkingsaanleg het afgeneem en ons was finansieel slegter daaraan toe, wat omset nadelig beïnvloed het. Ons voel egter dat, gegewe die ekonomiese omstandighede van baie Suid-Afrikaners, dit die regte ding is om na ons personeel om te sien,” verduidelik Van Reenen.
Hoewel Beefmaster gelukkig was om tydens die inperking as ’n noodsaaklike diens verklaar te word, het dit nie ongeskonde daarvan afgekom nie. Die groep het ernstige sake-struikelblokke beleef. Die verskaffing van beesvleisprodukte is onderbreek weens die gedwonge sluiting van restaurante en hulle het swaargekry weens die uitbreking van bek-en-klouseer vroeër in 2020.
Teen die einde van 2020 het die groep meer as R6 miljoen in Covid-19-aangeleenthede vir sy werknemers belê. Hulle het ook nie loonverlagings of besigheidsherstrukturering op grond van bedryfsvereistes oorweeg nie, anders as baie ondernemings wat deur ekonomiese toestande geraak is.
“Ons besef hoe belangrik dit is om ons spanne te beloon, hoewel onsekerheid tot diep in 2021 sal voortduur, veral omdat baie van ons personeel voorstelinie-werkers was tydens die hoogtepunt van die pandemie. Hulle moet bedank word omdat hulle ekstra risiko’s geloop het,” sluit Van Reenen af.
Meer oor die Beefmaster-groep
Die Beefmaster-groep is ’n toonaangewende spesialisprodusent van gehalte-vleisbeesprodukte in Suid-Afrika, die Midde- en Verre Ooste en elders. Die groep is een van die grootste beesvleisproduksiemaatskappye in private besit in Suid-Afrika. Beefmaster is betrokke by die hele waardeketting, van die grootmaak van en boer met beeste, tot die lewering van vleisgebaseerde produkte aan klante. Dit vereis grondbeginsels wat nie tradisioneel landboukundig is nie, soos vlootbestuur van padvragmotors, grondverskuiwingstoerusting, beesgesondheid en -voer, die opsny en verpakking van vleis en ten volle toegeruste werkswinkels.
Beefmaster glo dat alle beesrasse die potensiaal het om uitsonderlike beesvleisprodukte te lewer. Hy smee sterk verhoudings met gevestigde sowel as opkomende boere om toegang tot ’n verskeidenheid beeste te verkry, ongeag die ras, wat boere help om die gehalte en volhoubaarheid van kuddes te verhoog deur onder meer opleiding, mentorskapprogramme en afsetooreenkomste te bied.
Die maatskappy se moderne tegnologie en wêreldklas-aanlegte stel hom in staat om doelgemaak te “produseer per bestellings” vir sommige van die grootste belangegroepe in die voedselbedryf. Sy uitsonderlike span hoogs opgeleide personeel wat volgens die hoogste moontlike veiligheidstandaarde werk, stel hom in staat om ’n betroubare verskaffer en vennoot te wees.
Sy naspeurbaarheidstelsel stel hom in staat om sy beesvleis deur die hele verskaffingsketting na te spoor. Dit beteken dat Beefmaster met vertroue ’n eindproduk van gehalte kan belowe. Hy wys hulpbronne toe aan nie net sy personeel nie, maar ook aan plaaslike gemeenskappe, met die doel om die omgewing waarin hy sake doen volhoubaar en gunstig te beïnvloed.