
Die Beefmaster-beesras se tussenkalfperiode (TKP) van 399 dae is die beste van alle beesrasse wat by SA Stamboek geregistreer is. Sy speengewigte en koei-tot-kalf-verhoudings is ook van die beste onder alle rasse. Hierdie twee eienskappe het die meeste ekonomiese waarde vir ’n beesboer en daarom is die Beefmaster een van die gewildste rasse onder Suid-Afrikaanse telers.
Die Beefmaster, wat in 1954 deur die Amerikaanse departement van landbou as ’n volwaardige ras erken is en waarvan die eerste teelmateriaal Suid-Afrika in die laat 1970’s bereik het, is ’n sintetiese ras. Hy is geteel uit Brahman (50%), Hereford (25%) en Melkkorthoring (25%). Die ras word al jare lank geselekteer vir eienskappe wat tot optimale produksie en reproduksie lei. Hierdie eienskappe sluit in vrugbaarheid, groei, melkproduksie, gehardheid, bouvorm en temperament. Dit is waarom die Beefmaster se vrugbaarheid en groei so goed is.
Ook ten opsigte van die ander eienskappe oortref die Beefmaster ander rasse. Sy koeie is byvoorbeeld baie goeie moeders en hul hoë melkproduksie stel hul kalwers in staat om genoeg te drink en sodoende goeie groei te toon.
Ten opsigte van gehardheid en aanpasbaarheid vaar die Beefmaster ook uitstekend. Dié beeste vaar goed in uiteenlopende streke – vanaf Namibië tot by die Natalse Drakensberge en vanaf Limpopo tot in die Wes-Kaap.
Die Beefmaster word streng vir bouvorm geselekteer, daarom is die beeste funksioneel en doeltreffend. Hul goeie temperament maak hulle maklik om mee te werk.
Die Beefmaster-telersgenootskap
Die Beefmaster-ras is sedert 1987 by SA Stamboek geregistreer, dieselfde jaar wat die Beefmaster-telersgenootskap van Suid-Afrika gestig is. Tans is daar 64 887 Beefmaster-diere en 138 -telers by SA Stamboek geregistreer.
“Ons verbintenis met SA Stamboek stel ons in staat om die magdom inligting wat ons na hulle stuur, in verwerkte, betekenisvolle vorm terug te ontvang. Nie net verseker dit dat ons by ons rasstandaarde hou en daarop verbeter nie, maar dit stel elke teler in staat om ’n ingeligte besluit rakend sy teelbeleid te neem,” sê dr. Hendrik Meyer, visie-president van die Beefmaster-telersgenootskap.
Die Beefmaster-telersgenootskap het laas jaar heelwat hoogtepunte beleef, wat sowat 50 produksieveilings insluit waar goeie pryse behaal is. Daar was ook ’n Beefmastertoer na die Oos-Kaap met 80 toerlede.
Ook in 2022 is verskeie telers deur SA Stamboek as presteerders aangewys. Daar is onder meer twee platinum, een dubbelgoud, twee goud, 12 silwer en 11 brons kuddes aangewys.
’n Besige jaar lê in 2023 vir die Beefmasters voor. Hoogtepunte op die program is:
- Nasionale veiling: 6 Julie, Afridome Parys
- Vrystaatse Beefmastertoer: 7-10 Maart
- Nampo-oesdag: 16-19 Mei, Nampopark, Bothaville
- Royal-skou: 26 Mei-4 Junie, Pietermaritzburg
- 54 telersveilings