
“Ná meer as sewe jaar se swaarkry weens ’n uitmergelende droogte word boere se harde werk uiteindelik beloon in die vorm van finansiële meevallers. Hierdie gunstige gebeurtenis sal die hele bedryf en ekonomie bevoordeel, as dit voortduur. Ons wens boere geluk met goeie resultate vanjaar,” sê Roelie van Reenen, uitvoerende hoof van die verskaffingsketting van die Beefmaster-groep, ’n toonaangewende spesialisverskaffer van beesvleisprodukte aan Suid-Afrikaanse en wêreldmarkte.
Suid-Afrika het in 2021 ’n positiewe landbouklimaat gerapporteer wat in 2020 met 13,4% op ’n jaargrondslag gegroei het, en na verwagting in 2021 verder sou groei met 7,6% op ’n jaargrondslag.
“Daar was ook minder speenkalwers beskikbaar, wat boere gehelp het om hoër pryse vir hul vee te behaal en gelei het tot ’n algehele verbeterde finansiële prentjie vir boere,” sê Van Reenen.
Met insetkoste soos veevoerpryse wat egter na verwagting in 2022 skerp sal styg, sê Van Reenen die oorhoofse kostestruktuur kan verander en die waarde van veeproduksie kan daal. Dit gaan met ander woorde waarskynlik duurder wees om ’n dier in 2022 te produseer en belanghebbendes in die bedryf sal dalk nie ’n toename in wins sien nie.
“Dit sal wys wees van alle belanghebbendes in hierdie bedryf om met versigtige optimisme voort te gaan gegewe die onsekere klimaat en te verseker dat hulle voldoende voorsiening maak vir die toekoms,” sê Van Reenen.
Hy voeg by dat die bedryf ook die huidige omgewing in ag moet neem. Brandstofpryse het onlangs drasties gestyg, met verdere stygings moontlik in 2022. Verder sal lewenskoste waarskynlik styg weens ’n stygende rentekoerssiklus. Dit kom na aanleiding van die aankondiging deur die SA Reserwebank, wat die rentekoers met 25 basispunte verhoog het. Daar word voorspel dat die repokoers teen die einde van 2022 op 4,5% tot 4,75% kan staan en die prima uitleenkoers kan 8% tot 8,25% wees.
“Ons moet bedag wees daarop dat die opwaartse trajek van die koste van grondstowwe beteken dat toerusting, veevoer, brandstof en alledaagse goedere duurder gaan word,” sê Van Reenen.
Om gereed te wees vir 2022 moet belanghebbendes in die bedryf verstaan hoeveel dit kos om ’n dier te produseer en dan daarop konsentreer om produksie opwaarts te skaal. Deur dit te doen, sal die boer voordeel trek uit ’n verlaagde vaste koste per eenheid as gevolg van beter skaalbesparings.
“Weens die hoër aanbod wat verwag word, sal ons waarskynlik ’n afname in die waarde van die speenkalf sien. As die oorhoofse struktuur vas is, het jy meer inkomste nodig om dit te dek. Die enigste manier om dit te versag, is om meer te produseer,” sê Van Reenen.
Hy voeg by dat dit ook ’n goeie idee kan wees om meevallerwinste in biologiese bates te herbelê.
“Dinge kan ten slegste verander. Ons moet konserwatief wees en vir moeiliker tye beplan. Die beste ding wat hierdie bedryf kan doen – insluitend beesvleisprodusente, die verskaffingsketting en boere – is om eerder soos die mier in die klassieke kinderfabel te wees as die sprinkaan, wat nie die behoefte verstaan het om vir die toekoms voor te berei nie,” sluit Van Reenen af.