
Dit is hul plig om na die belange van die hele rooivleisbedryf om te sien om só ’n situasie te skep waar almal wen, sê mnr. Roelie van Reenen, verskaffingskettingdirekteur van die Beefmaster-groep. Dit sluit aandag aan primêre produksie en hulp aan boere in.
“Om boere in staat te stel om meer geld vir hul produkte te kry, gee ons die nodige leiding sodat hulle weet wat om te doen, soos ’n klem op kuddegesondheid en algemene bestuur. Daarvoor werk ons individueel saam met boere deur hul beeste te evalueer en terugvoering te gee oor hoe hulle ’n pryspremie kan verdien.”
Die Beefmaster-groep se klante is gevestigde en opkomende boere met wie die groep ’n sterk verhouding opbou om verskeie beeste, ongeag die beesras, vir die voerkraal te bekom. Die groep help boere ook om die gehalte en volhoubaarheid van hul kuddes te verhoog deur opleiding, mentorskap en koopooreenkomste. Hoewel die Beefmaster-groep altyd beeste op veilings gekoop het en dit steeds as ’n belangrike bron beskou, is dit nie meer al platform wat hy gebruik nie.
Die groep is toegespits op ’n regstreekse verhouding met betroubare verskaffers, naamlik boere.
“Wanneer ons beeste op ’n veiling koop, weet ons nie altyd wat ons gaan kry nie. Wanneer ons egter met ’n betroubare boer sake doen, is ons seker ons kry speenkalwers van net die beste gehalte,” sê Van Reenen. Die groep ontvang beeste ook regstreeks van boere af by die abattoir en voerkraal.
Die Beefmaster-groep is by die hele waardeketting betrokke. Dit verg kundigheid op talle gebiede wat nie noodwendig tradisionele landboubedrywighede behels nie, soos die bestuur van ’n vloot vragmotors, grondverskuiwingsmasjinerie, dieregesondheid en -voeding, vleisverwerking en -verpakking en werksessies.
Werkverskaffer
Die abattoir in Kimberley waar sowat 800 beeste per dag geslag kan word, is dié stad se grootste private werkgewer. By hierdie abattoir word beeste geslag, versnit, verpak en versend. Die Beefmaster-groep verskaf werk aan sowat 1 000 mense, van wie die meeste by die abattoir betrokke is.
Die Van Reenen-familie is sedert 1722 in Suid-Afrika toe die stamvader, Jacob van Renen (toe nog Van Renen gespel), ’n konsessie in die Kaap begin het om vleis aan skepe te verskaf. Mnr. Lourie van Reenen het in 1965 ’n klein voerkraal begin. In 1983 het hy ’n plaas by Christiana gekoop waarop die Beefmaster-voerkraal begin is.
Die abattoir het in 2001 gevolg en die eerste kleinhandelvleiswinkels in 2005. Die groep het ook ’n fabriekvleiswinkel in die abattoir en verskeie winkels in Gauteng. In 2020 is ’n afleweringsdiens vir vleisprodukte via die groep se iBeef-webwerf begin. Die groep voer sedert die laat 2000’s vleis na buurlande uit. Sedert 2012 word vleis ook na Mauritius en die Midde- en Verre Ooste uitgevoer, en sedert 2017 na China.
Die groep is een van net drie Suid-Afrikaanse produsente wat deur China goedgekeur is.
Naspeurbaarheid
Van Reenen sê naspeurbaarheid is noodsaaklik vir die veebedryf omdat dit help om risiko’s te verminder. Danksy die Beefmaster-groep se naspeurbaarheidstelsel kan die groep plaaslik en oorsee sake doen omdat al die produkte na hul oorsprong nagespeur kan word.
Suid-Afrika ding mee met vleis van hoogstaande gehalte van lande soos Amerika en Australië, asook met grootmaatverkope van produkte van ’n laer waarde van veral Suid-Amerika.
“Danksy ons klassifikasiestelsel is ons produkte uniek in die wêreld omdat ons jonger diere slag en hul vleis verpak. Die vleis is sag en sappig en het nie baie vet nie, wat dit baie gesog maak,” sê Van Reenen. Uitstekende bestuur en higiëne is noodsaaklik wanneer vleis vir uitvoer geproduseer word. Gevolglik verbeter die Beefmaster-groep voortdurend sy stelsels en beskik oor FSSC 22000-sertifisering.
Die groep is geakkrediteer om produkte aan hoëprofielklante soos Woolworths en McDonald’s te lewer. Dit is danksy etiese en ander standaarde van hoë gehalte wat in die voerkraal gehandhaaf word, asook wat die hantering van diere en bevriesings- en verkoelingsgeriewe betref. Personeel word jaarliks opgelei ingevolge FSSC 22000-standaarde. Aandag word ook gegee aan plaasgesondheid en -veiligheid.