
Die boer wat sy diesel in groot maat aankoop en die regte ding doen deur brandstof van goeie gehalte aan te skaf, kan homself in die voet skiet as hy nie sy opbergingstenk gereeld skoonmaak nie. Dit is iets waarmee mnre. Herman en Marius Brelage van FPS Bulk Diesel al te veel te doen gekry het.
FPS verskaf sedert 2000 premiediesel aan boere in Mpumalanga, Kwa- Zulu-Natal, die Vrystaat en Gauteng, en is gesteld daarop dat die diesel van topgehalte én skoon is.
“Dit gebeur wel soms dat ’n boer wat sy dieseltenk nie gereeld skoonmaak nie, ons daarvan beskuldig dat ons diesel vuil is. Daarom sal dit goed wees vir die koper om elke keer wanneer hy sy tenk opvul, ’n liter uit die verskaffer se afleweringsvoertuig te tap en dit te hou om te toets indien daar in die toekoms ’n fout met sy voertuig kom.”
’n Boer moet ten minste een keer per jaar sy opbergingstenk skoonmaak, sê Herman. “’n Tenk ‘haal asem’,” sê hy. “Wanneer ’n tenk halfvol is en die temperatuur daal en dit word weer warmer, kan dit gebeur dat die tenk stof insuig, veral as dit in ’n baie stowwerige omgewing staan en daar nie ’n behoorlike filtreerstelsel op is nie. Kondensasie wat in die tenk vorm, veroorsaak saam met die stof slyk wat op die bodem van die tenk gaan lê.”
Mnr. Kobus van der Merwe van JE Pump Repairs, wat ’n skoonmaakdiens vir brandstoftenks bied, sê die kondensasie veroorsaak ook alge en roes wat saam met die diesel uitgesuig kan word wanneer die boer sy trekker vol maak. Hy beklemtoon dat ’n opbergingstenk op die regte manier skoongemaak moet word.
“Ek raai boere aan om dit nie self te doen nie. Dit is baie gevaarlik om byvoorbeeld ’n werker in ’n tenk te laat klim wat nie ontgas is nie. Jy moet ook geakkrediteer wees om dié werk te doen en jy wil nie moeilikheid met die departement van arbeid hê nie.”
JE Pump Repairs gooi die middel Algae Clear in om van alge ontslae te raak. Daarna sit die onderneming pype bo in die tenk waarmee hy ál die vuiligheid opsuig en die water uithaal. Die laaste stap is filtrasie sodat net skoon diesel teruggaan in die tenk.
“Die tenk hoef dus nie leeg te wees vir ons om dit skoon te maak nie.” Om brandstof op te berg, gaan nie net daaroor hoe om dit op te berg nie, maar ook oor die hoeveelhede.
“Ons raad aan boere is om in die huidige ekonomiese omstandighede meer brandstof op te berg. Paaie word besiger, daar is beurtkrag wat die laai van diesel belemmer, en brandstof word duurder. Dit alles beïnvloed die beskikbaarheid daarvan,” sê Herman. “Die beste is om twee tenks op die plaas te hê waarvan een altyd vol is, terwyl die ander een gebruik word.”
Marius voeg by dat ’n boer dit deel van sy beplanning moet maak vir besige tye, soos plant- of strooptyd, en sorg dat hy genoeg brandstof vir ten minste twee weke het. Nog iets waarvan boere be wus moet wees, is dat hulle die wet oortree as hulle diesel opberg wat met paraffien verdun is. Oneerbare verskaffers bring hul pryse af deur paraffien by diesel te voeg. Dit is nie net sleg vir die voertuie waarin dit gebruik word nie, dit is ook belastingontduiking en dus onwettig.
As die Suid-Afrikaanse Inkomstediens daarvan bewus word, kan hulle gestraf word met boetes en strafregtelike optrede. Om seker te maak hul diesel is skoon, raai Marius boere aan om monsters van hul diesel na SGS te stuur en dié toetslaboratorium te vra om spesifiek vir die Authentix A1-merkerinhoud te toets. Hierdie toets dui op die teenwoordigheid van paraffien in diesel.
SGS kan ook bepaal hoeveel paraffien in die diesel is. As dit die toelaatbare hoeveelheid oorskry, word dit as ’n dieselaanvuller beskou en is dit dus onwettig.