
Dit het in die 1980’s begin as ’n klein skou op die plattelandse dorpie Reitz in die Oos-Vrystaat. Vandag is die Bieliemieliefees een van die grootste landbou-, familie- en gemeenskapsfeeste in Suid-Afrika. Dié fees word vanjaar op 23-26 Februarie vir die 43ste keer op die dorp se feesterrein aangebied. Die Bieliemieliefees ontvang jaarliks tot 17 000 feesgangers en met sowat 140 uitstallers is daar werklik iets vir elkeen.
Uit die landboubedryf
Die nuutste landbouwerktuie word uitgestal en skougangers kan by uitstallers meer uitvind van die jongste tegnologie wat die landboubedryf bied. Boere se heel beste vee is te sien in die kuddekompetisie, die ramveiling, die slaglamkompetisie en die beesuitstalling. Die sterkste mans en vroue kyk ook wie die swaarste vrag wol kan dra in die woldrakompetisie.
Pret en plesier
Soos nou al tradisie is, bied die uitstallers iets vir feesgangers van alle ouderdomme – van juwele vir Ma en geweersakke vir Pa tot speelgoed vir die jongklomp. Ook beskikbaar is diere-, vars en verwerkte produkte, asook ’n verskeidenheid kuns, nutsgoedere en unieke items.
Moenie die kosstalletjies vergeet nie. Egte plattelandse kos wat die mond laat water, word aangebied. Dié boerekos is net nog ’n rede om by die fees te kuier. Hierdie is mielie-, soja- en sonneblomwêreld en die boeregemeenskap is so gasvry as kan kom.
’n Groot deel van wat die Bieliemiefees so lekker maak, is die sportaktiwiteite wat ’n marathon, bergfietsresies, krieketwedstryd, asook hengel- en gholfkompetisies insluit. Die Bulletjie-rugby- en mini-netbalwedstryde lok elke jaar groot belangstelling. Soos altyd sal boeresport ook vir pret sorg.
Die lys van vermaakkunstenaars wat by die Bieliemieliefees optree, beïndruk vanjaar met groot name in die bedryf wat die verhoog gaan betree. Dit sluit in Spoegwolf, Die Heuwels Fantasties, Ricus Nel, Robbie Wessels en Klipwerf. Om die hele program te sien, klik hier: FEESPROGRAM
Kaartjies is beskikbaar by Computicket of by die hekke. Belangstellendes kan ’n dagkaartjie of ’n naweekkaartjie koop.