
Sodra dit reën, is die ou Wes-Transvaal ’n dankbare wêreld, sê mnr. Danie Erasmus, ’n boer van Delareyville in Noordwes.
“Dié gebied het sy genadejare. Aan die begin van die vorige seisoen is ons geseën met 59 mm reën in November (2019). Van November tot Junie vanjaar het dit altesaam 716 mm gereën.
“Een van ons aanplanings het gemiddeld 6,65 t/ha gestroop, wat uitstekend is vir droëlandmielies in hierdie geweste. Trouens, die afgelope seisoen was ons beste opbrengs nóg!” Danie en sy vrou, Wilna, boer op die plaas Belmont. Hulle is ook die eienaars van die Vera-Simmentalerstoetery. Hul seun, Carel, boer die afgelope agt jaar saam met hulle.
Mieliepakket
Die afgelope produksiejaar was ’n jaar vol hoop met beter reënval as in die vorige ses jaar met wisselvallige en te min reën. Maar dit is nie net reën wat beter oeste bring nie. Gesaaides moet die genetiese potensiaal hê om te kan presteer. Daarom was die beloning groot vir boere wat Pannar se saad kies.
Die witmielies PAN 5R-891BR en PAN 5R-785BR is in die pakket wat Danie verkies en lewer graan van uitstekende gehalte. Maar hy plant ook mielies vir eie gebruik as voerbron. Die Erasmusse se Simmentalers word goed versorg, veral in die tye van die jaar wanneer die weiding nie voldoende is om goed afgeronde, gesonde beeste te verseker nie.
Daarvoor word kuilvoer van goeie gehalte gemaak, hoofsaaklik van die geelmieliebaster PAN 6R-680R en die witmieliebaster PAN 6479.
“Hierdie kuilvoerbasters is bekostigbaar en lewer baie goeie plantmateriaal en meerkoppigheid, wat ideaal is vir die maak van kuilvoer.” Ook die mieliereste word benut. Die kuilvoer word hoofsaaklik gebruik om hul bulle af te rond vir verkope. Hul bulle ondergaan ook ’n fase D-toets. Die koeie kry ’n lek, en ná strooptyd gaan die koeie en kalwers na die lande om oesreste te bewei.
“Gehaltekuilvoer is belangrik. Dit stel ons in staat om ons bulle vir die kommersiële mark af te rond en om uitskotbulle en speenkalwers vir bemarking groot te maak. Ons teling en goeie voerprogram werp vrugte af en ons het in Mei vanjaar ’n baie goeie produksieveiling gehad,” sê Danie.
“Al is dit ’n ouer baster, bly PAN 6479 ’n staatmakerkuilvoermielie,” sê me. Cornel Ferreira, wat al meer as 13 jaar lank in hierdie omgewing boere van raad oor Pannar se produkte bedien. “Dit is toevallig ook die eerste baster wat ek hier op Delareyville verkoop het toe ek as verkoopsverteenwoordiger by Pannar aangesluit het.”
Boere het ’n wye keuse uit Pannar se witmieliepakket vir die westelike produksiestreek (Noordwes, die Wes-Vrystaat en Limpopo). Dit bestaan uit ’n uitstekende reeks mediumvinnige en mediumbasters. Daarmee saam is die mediumbasters in die geelmieliepakket gedug.
Die basters lewer uitstekende prestasie en stabiliteit in ál die westelike droëlandproduksiestreke. Omdat sy resultate met hierdie produkte só goed is, hou Danie aan om PAN 5R-891BR en PAN 5R-785BR te gebruik. “Opkoms is belangrik, en hierdie pakket lewer dit vir my. Groeikragtigheid moet sterk wees en ons wil ’n egalige opkoms hê.”
PAN 5R-891BR is een van die sterre in die pakket. Hierdie baster vertoon baie sterk meerkoppigheid. Die saailinge kom sterk uit die grond om ’n goeie plantestand te vestig. PAN 5R-891BR is wyd aangepas en handhaaf ’n baie goeie, stabiele prestasie by verskillende opbrengspotensiaalvlakke.
Dié mielie presteer goed op hoëpotensiaalgrond in die westelike produksiegebiede met ’n klei-inhoud van minder as 10% in die bogrond. Nóg ’n voordeel van hierdie pakket is dat PAN 5R-891BR én PAN 5R 785BR tweedegeslagbeskermingsgene teen stronkboorder het. Laasgenoemde toon ook goeie verdraagsaamheid teen kop- en pluimbrand, en noordelike blaarskroei.
Wisselbou
Danie gebruik konvensionele boerderymetodes, presisieplanters en wisselboutegnieke. Hy plant Pannar se sonneblombasters PAN 7080 en PAN 7160 CLP. Wat sojabone betref, het hy die afgelope produksiejaar die nuwe kultivar PAN 1644R gebruik. PAN 1623R en PAN 1521R is ook deel van sy sojaboonaanplantings.
Volgende geslag
Carel behartig baie van die stroopwerk self. “Pannar se mielies lewer ’n uitstekende graad 1- mielie wat ons hier naby aan NWK se Rostrataville-graansilo lewer.”
Hy sê toe hy vanjaar in die stroper klim, was dit vir hom ’n belewenis ná soveel droogtejare. “Ons het die een dag 200 ton mielies van 09:00 tot 14:00 gestroop. Op hierdie land het ons juis ’n digter plantestand van 25 000 mielieplante per hektaar probeer, en dit was lonend. Ek het nog nooit só baie mielies op een slag gesien nie!
“In 2014 was daar plekke op die lande waar daar eenvoudig niks opgekom het nie. Die droogtejare was vir my baie erg, en ek het al ’n keer of wat gevra of ons nie maar na ’n plek kan trek waar dit reën nie,” sê hy laggend.
Met sy oupagrootjie Danie wat die plaas in 1940 gekoop het, sal die Erasmusse egter nie maklik trek nie. Sy oupa Carel sr. het in 1961 begin boer en sy pa het in 1988 by die boerdery aangesluit.
“As die vierde geslag is dit vir my ’n voorreg om nou saam met my pa te boer,” sê Carel. Met Carel aan sy sy sien Danie uit na die toekoms.
“Ons het al begin om ’n paar dinge te verander, soos ons bewerkingspraktyke en om groter presisieplanters te gebruik. Die mikpunt is om ons werkers doeltreffender in te span. “Ons het ook oorbeweeg na GPS-selfstuur vir presisiestuur en om die spoorverkeer in die lande beter te bestuur,” sê Danie.
“Maar die beste bemesting is die boer se spore in die land. Jy moet steeds self in die lande kom, kyk waar die foute is en probleemkolle identifiseer. Uiteindelik wil ons akkurater wees en kostedoeltreffende aanpassings op die plaas maak.”