
Die Boran-ras het oorspronklik ontstaan uit die Bos indicus-beeste wat saam met Arabiese invallers na Oos-Afrika gekom het, en is genoem na die Boranaplato in Suid-Ethiopië. Borana is ’n hooggeleë gebied met strawwe klimaatstoestande en voortslepende droogtes. Die ras is dus baie gehard en aangepas by ekstreme omgewings.
Die Keniaanse Boran-beestelersgenootskap is reeds in die vroeë 1900’s gestig om die ras te beskerm en te verbeter. Die Boran-beestelersgenootskap van Suid-Afrika is op 17 Mei 2003 gestig. Volgens die DNS-ontledings van prof. Olivier Hanotte van Brittanje is die ras se samestelling tans 64% Bos indicus, 24% Europese Bos taurus en 12% Afrika- Bos taurus.
Kuddes
Die Boran was uit die staanspoor gewild in Suid-Afrika.
Ná die stigting van die Boranbeestelersgenootskap het die ras se getalle in Suid-Afrika toegeneem en neem steeds toe.
Daar is tans meer as 35 000 Boran-stoetbeeste in net meer as 200 kuddes op SA Stamboek se Logix-databasis (September 2022). Die vyf grootste kuddes het meer as 900 diere elk, met die grootste kudde meer as 2 000 diere.
Stoetkuddes is versprei oor ál nege provinsies van Suid-Afrika, met die meeste kuddes en diere in die Vrystaat, Limpopo en Mpumalanga. Daar is ook kuddes in Eswatini, Zambië, Namibië en Botswana wat by die Suid-Afrikaanse Boran-beestelersgenootskap ingeskryf is.
Eienskappe
Afrika se geharde beesrasse wat aangepas is by strawwe omgewings, het sekere kenmerke gemeen. Koeie het byvoorbeeld ’n kleiner raam wat dui op laer onderhoudsbehoeftes en beter aanpassing by gras van swakker gehalte, asook goeie hitteverdraagsaamheid in die somer. Die koeie is vrugbaar, langlewend en is goeie moeders met ’n sterk tropinstink om hul kalwers die beste kans op oorlewing te gee.
Eienskappe wat op koeiprestasie op die veld dui, word deur telers gemeet en aangeteken.
Genetiese neigings vir koeiwaarde by die Boran is positief, wat beteken Boran-telers vermeerder die teelmateriaal van die doeltreffender diere, naamlik vrugbare koeie wat maklik kalf en elke jaar ’n swaar kalf relatief tot haar gewig speen.
Die Boran is ook bekend as ’n moederlyn wat geskik is vir kruisteling juis danksy die laer onderhoudsbehoefte van die koeie op die veld.
Die Boran-koei se goeie moedereienskappe verseker groei by die kruisraskalwers. Genomiese toetsing het verder gewys dat die Boran min verwant is aan ander rasse in Suid-Afrika, wat dus beter basterkrag tot gevolg het.
Dikvellig – Op ’n Goeie Manier
Sedert 2016 word die naspeense groei en ander karkaseienskappe van jong potensiële teelbulle op die veld toenemend gemeet om sodoende die doeltreffender diere op grond van teelwaardes te identifiseer en te selekteer.
Die resultate van groeitoetse toon dat die Boran ’n dikker vel het. Veldikte het ’n groot invloed op aanpassing vir hitte omdat liggaamshitte gereguleer word deur die bloedvloei na die vel, waar hitte-uitstraling plaasvind. ’n Dikker vel met ’n groter bloedtoevoer kan dus hitte beter reguleer.
’n Dikker vel is ook ’n fisieke versperring wat dit moeilik maak vir steekvlieë en bosluise om vas te heg en te byt.
Ultrasoniese karkasmetings by die bulle in groeitoetse toon ook dat die Boran goed vaar met onderhuidse kruisvetdikte, wat bekend is as ’n opgaarplek vir vet. Vet is ’n belangrike energiebron vir koeie wat in strawwe toestande op die veld moet kalf en oorleef.
Me. Helena Theron is ’n senior navorser by SA Stamboek