
Vir mnr. Izak Cronjé van die plaas Whitfield buite Theunissen in die Vrystaat gaan boerdery oor finansiële volhoubaarheid, iets wat hy en sy familie al dekades lank regkry en die Bonsmara-beesras vorm ’n groot deel van sy sukses.
“Die Bonsmara-stelsel, sy mense en die ras se goeie eienskappe maak dit net ’n plesier om mee te boer,” sê Cronjé, wat die bekroonde Leeuwbult Bonsmara-stoetery bedryf.
Beesboerdery is in Cronjé se bloed en hy is die vierde geslag wat met vleisbeeste in die distrik Theunissen boer. “Almal voor my het finansieel oorleef en volhoubaar geboer oor ’n tydperk van meer as 140 jaar.”
Cronjé het dié tradisie voortgesit toe hy in 1994 begin boer nadat hy die graad BScAgric met veekunde aan die Universiteit van die Vrystaat behaal het. Sy boerdery bestaan uit die Bonsmara-stoetery, koring, mielies en sojabone, asook sonneblom en grondboontjies wat onder besproeiing en op droëland verbou word. Saam met hom boer sy vrou, Eloïse, en drie kinders, Lenè, George en Marguerite.
Leeuwbult Bonsmara is in 2009 by SA Stamboek geregistreer en bestaan uit 500 teelkoeie. Vanaf 2015 het dié kudde elke jaar ’n goue of silwer medalje met die Logix Elite-vleistoekennings ontvang, onder meer goud met die afgelope drie jaar se toekennings.
Seleksie en teling
Sedert 2018 word Leeuwbult se fase C-groeitoetsstasie op Whitfield bedryf. Al die manlike en vroulike diere wat in die kudde opgeneem word, word getoets.
“Dit maak seleksiebesluite en teeluitkomste meer voorspelbaar en akkuraat danksy goeie data. Omdat ons onder meer vir ekonomiese eienskappe soos voeromsetting selekteer, is die kudde baie produktief,” sê Cronjé.
Gehardheid, aanpasbaarheid en volhoubaarheid is belangrike eienskappe in die Leeuwbult-stoetery. Een van die redes hiervoor is omdat die kudde vanaf Oktober tot Julie op natuurlike weiding (drakrag van 7 ha/GVE) loop en ook op smutsvingergras wat op marginale grond aangeplant is.
Sy plaas is in ’n somerreëngebied en kry gemiddeld 470 mm reën per jaar. In die winter word mieliereste gebruik indien nodig weens laat reën of droogte en na gelang van bewerkingspraktyke en grondvog.
“Dit kan regtig taai raak selfs op mieliereste wanneer die natuur jou dwing om daarop te bly tot middel Desember. Die beeste moet in sulke tye in dik sand ver loop na kos en water. Loopvermoë, gehardheid en aanpasbaarheid begin dan ’n wesenlike rol speel ten opsigte van die ras waarmee jy boer.”
Die ander eienskappe wat die Bonsmara-beesras Cronjé se voorkeurkeuse maak, is sy hoë vrugbaarheid, goeie vleiseienskappe en wye genepoel. Vir hom word al die eienskappe van die ras in ag geneem ten einde ’n gebalanseerde bees te teel.
Cronjé gebruik die Genepro-paringsprogram om die beste kombinasie diere met mekaar te paar en sodoende vinnig genetiese vordering te maak. Hy gebruik ook Stamboek se SABeefbulls.com om manlike en vroulike diere se waarde te bepaal en om bulle te identifiseer ten opsigte van die belangrikste ekonomiese eienskappe.
Beter resultate
Hierdie gesteldheid op goeie seleksie en wetenskaplike benadering help om die Leeuwbult-kudde bokant die rasgemiddelde te plaas volgens eienskappe wat swaar weeg in enige beesvleisproduksiestelsel. Leeuwbult se groeiwaarde is 107 teenoor die rasgemiddelde van 100; so ook is sy koeiwaarde 106, produksiewaarde 106 en karkaswaarde 109 vergeleke die rasgemiddelde van 100.
“Ons kry goeie terugvoer van bulkopers oor ons beeste se aanpasbaarheid, vrugbaarheid, geboortegemak, speenkalfproduksie en karkaswaarde,” sê Cronjé.
Die vyfde produksieveiling van die Leeuwbult Bonsmara-stoetery word op 22 Junie om 11:00 op die plaas Whitfield gehou. Cronjé nooi belangstellendes om die geleentheid by te woon.